Sowat 45 lidmate, onder wie talle kerkleiers van African Methodist Episcopal (AME) Kerke in Worcester, het Saterdag (16 Desember) die hitte getrotseer toe hulle moue opgerol en hul begraafplaas in Fairbairnstraat kort voor Kersfees skoongemaak het.
Die begraafplaas is die afgelope ruk reeds ’n seer oog met onkruid wat tot kniehoogte staan, grafte wat beskadig word, mure wat afgebreek word en gewetenlose booswigte wat rommel bo-op grafte stort.
Eerw. Anthony Jacobs, hoofleraar van die Worcester-distrik wat al die AME-kerke in Worcester asook die gemeente RJ Davids AME in De Wet insluit, eerw. Keith Links van die gemeente Zion AME, eerw. Harold Josephs van die gemeente Bethesda AME, eerw. Quinton Liebenberg van die gemeente Calvary AME en eerw. Chandrau Africa van die gemeente Victory AME, het ook aan Saterdag se skoonmaak-aksie deelgeneem.
Volgens Jacobs bestaan die begraafplaas van die AME Kerk reeds meer as 130 jaar.
“Voor die vyftigerjare is die lidmate van die AME Kerk, lidmate van die gemeente Zion AME en al die ander lidmate wat gesterf het in hierdie kerkhof begrawe.
“Aansienlike kerk-uitbreidings het plaasgevind en mettertyd het daar nuwe gemeentes uit gemeente Zion AME ontstaan.
“Ons verwys na gemeentes soos die Bethesda AME, die RJ Davids AME in De Wet, die Calvary AME en die Victory AME. Die lidmate van hierdie kerke is ook oor die jare in hierdie begraafplaas begrawe.”
Jacobs sê uitdagings waarmee die kerke gekonfronteer word, is onder meer vandalisme, grafskending, onsedelike gedrag en diefstal.
Volgens hom moet die begraafplaas toeganklik wees vir die naasbestaandes van geliefdes wat daar begrawe is en dit kan dus nie agter slot en grendel gelaat word nie.
Hy sê families behoort grafte vryelik te kan besoek, dit te kan skoonmaak en stille oomblikke te kan geniet.
“Ons moet gereeld vertoë rig tot die susterskerke om die begraafplaas skoon te hou.
“Een van die probleme waarmee ons sit, is dat baie van diegene wat in die begraafplaas begrawe is, nie meer familie het nie. Niemand kom dus met tye om die grafte skoon te maak nie.
“Dit is dan juis teen hierdie agtergrond dat lidmate van die AME Kerke gemobiliseer is om substansie te gee aan eienaarskap van die begraafplaas.”
Volgens Jacobs sal ernstig besin moet word oor toekomstige aksie en die pad vorentoe.





