Die wynlandbouorganisasie Vinpro gesels elke maand met ’n kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. Hierdie maand was Alvi van der Merwe van Alvi’s Drift aan die beurt.

1. Vertel ons meer oor Alvi’s Drift?

Ons is geleë aan die mees suidelike punt van die Breëriviervallei se Worcester-wyndistrik, net 50 kilometer van die kus af, in ons wynwyk Scherpenheuwel. In 1928 het ons stigter, Albertus Viljoen “Oupa Alvi” van der Merwe, ’n stukkie vrugbare Bolandse landbougrond op die oewer van die Breederivier bekom.Ons verbou wydverspreid oor ’n netwerk van sewe aangrensende plase altesaam 410 hektaar wingerde. Ons produseer agt uitsonderlike wynreekse oor vyf verskillende pryssegmente en bied werklik iets vir elke verbruiker se smaak. Ons wynreekse sluit in die gewilde vooraanstaande Signature-reeks, 221-reeks en vonkelwyne, onderskeidelik die super premium- en ultra premium- Reserve- en Albertus Viljoen-reekse saam met cap classique-wyne, en laastens die Verreaux Pinotage, wat deel is van ons luukse Flagship-reeks.Alvi’s Drift-wyne is in alle vooraanstaande Suid-Afrikaanse supermarkte en drankwinkels beskikbaar, wat 85% van ons verkope verteenwoordig, en 15% van ons wyne word na meer as 25 lande wêreldwyd uitgevoer.Buiten ons wingerd- en wynfokus, voer ons ook sitrus uit en verkoop suiwelprodukte aan ander sake-entiteite. Omdat ons ’n multi-landbou-onderneming is, het ons ’n wye reeks personeel op die plaas, maar die administrasie-afdeling, kelder en pakhuis alleen het 26 mense in diens.By Alvi’s Drift streef ons daarna om mense se waardering van dit wat werklik saak maak, verder te verryk deur meer spontane konneksies en onvergeetlike oomblikke te inspireer. Ons streef ook daarna om baanbrekers te wees deur wilskrag en toegewydheid, en om nie net ons weg oop te vind nie, maar dit oop te breek. Daarom is ons altyd besig met die onverwagse en dit wat ons hart warm laat klop.

2. Watter lesse het julle in die afgelope paar uitdagende jare geleer?

Wat ons geleer het, is dat ons ’n baie lojale, interaktiewe en werklike groep aanhangers het. Ons het uitgereik in ons tyd van nood en is aangeraak – nie deur verbruikers nie, maar deur duisende werklike en geïnvesteerde mense met hul eie stories, behoeftes en begeertes en wat wou betrokke raak en help.Ons sal nooit die ondersteuning wat ons die afgelope paar jaar ontvang het, vergeet nie. Dit het ons gedryf om selfs nog harder te werk om die beste gehalte wyn te verskaf om mense se waardering van dit wat werklik saak maak, verder te verryk.Ons het ons vermoëns verskerp om direk met ons vriende te kommunikeer en veranderinge aangebring om ’n baie meer interaktiewe en veeleisende aanlyn markplek te akkommodeer. Tussendeur het ons nie die toegewyde en passievolle kleinhandelaars, wat ons ondersteun het namate ons gegroei het en wat in staat is om ons produkte by ’n groeiende aantal ondersteuners uit te kry teen baie meer mededingende tariewe, uit die oog verloor nie. Dit stel ons in staat om uitsonderlike wyne aan die mark teen goeie pryse oor die hele land heen te bied.

3. Wat maak jul streek spesiaal wat terroir betref?

Alvi’s Drift is geseënd met ’n ideale Mediterreense mikroklimaat, die verkoelingseffek van die Atlantiese Oseaan se seebries saans, diverse topografie en grondtipes, sowel as ’n oorvloed water, en ons wingerde is ideaal geposisioneer vir die vervaardiging van merkwaardige wyne met ’n unieke, vruggedrewe karakter en kompleksiteit.Ons is as bewaarders van die grond waarop die Alvi’s Drift-wingerde geleë is, diep verbind tot omgewingsbewaring en maatskaplike opheffing. Ons streef deur volhoubare boerderypraktyke daarna om nie net aan ons plaas terug te gee wat daaruit geneem word nie, maar om voortdurend maniere te vind om die gesondheid en diversiteit van hierdie unieke terrein te verbeter.In die manier waarna ons na die grond omsien wat aan ons toevertrou is, die mense saam met wie ons werk, ons werkswyses en die produkte wat ons skep, streef ons voortdurend daarna om onsself te verbeter, met uitnemendheid as doelwit in alle aspekte van ons besigheid.Hierdie gedragskode stel ons in staat om ons land te eer, ons mense te bemagtig, ons gemeenskap op te hef en deur ons produkte uit te reik na die groter gemeenskap om saam met ons op hierdie reis te gaan.

4. Enige opwindende planne in die vooruitsig?

Ja! Ons het uiteindelik daarby uitgekom om ’n toegewyde vatsentrum te bou . . . en net op die regte tyd. Die vraag na ons produkte bly groei en ruimte in die familiekelder raak net te klein – soortgelyk aan hoe plaashuise saam met ? familie uitbrei. Die nuwe verouderingskelder sal ons in staat stel om op ’n veiliger en meer volhoubare wyse te funksioneer en ontsluit verskeie geleenthede vir die skep van uitsonderlike wyne van onwrikbare gehalte – wyne wat net so onweerstaanbaar in smaak is as wat hulle in prys is, en wat ons uitsien om aan verbruikers bekend te stel (Spoiler alert: Ons stel in September vanjaar ’n nuwe sauvignon blanc bekend!)Andersins sien ons daarna uit om ons lojale ondersteuners te beloon met die bekendstelling van ’n toegewyde wynklub later vanjaar, wat ’n groter agter-die-skerms-blik sal gee op die lewe by Alvi’s Drift en ons vriende meer sal vertel oor ’n paar van die interessante wyne wat ons skep, uitdagings wat ons in die gesig staar en eksperimente waarmee ons voortdurend besig is.

5. Wat is jou boodskap aan ander wynondernemings?

Dare to be true. Glo nie net aan jouself nie, maar in die mense rondom jou. Elke wynkelder en wyn is ’n eiesoortige uitdrukking van die wonder van Suid-Afrika en die wyne wat ons bied – iets wat die wêreld nou eers regop sit en raaksien. Waag dit om getrou te wees aan jouself, die mense en die land, en laat alles beter na vir die volgende geslag. Dit sal vrugte afwerp vir geslagte vorentoe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article