Rosemarie Coert het by die dood omgedraai.

“Die letsels op my liggaam herinner my aan God se onvoorwaardelike liefde.

“Dit gee troos dat daardie lyding vir my genesing gebring het.”

So sê Rosemarie Coert (59) van Parkerstraat in Worcester nadat sy sowat 13 jaar gelede by die dood omgedraai het toe sy en drie kollegas in ‘n gru-motor­ongeluk betrokke was.

Haar geloof het ná die ongeluk so verdiep dat sy in 2022 tot pastoor georden is.

Coert, ‘n afgetrede maatskaplike werker by die Helderstroom-gevangenis, vertel dat sy en drie kollegas op 17 Desember 2013 van die gevangenis af op pad terug huis toe was toe die bestuurder van die voertuig beheer oor die motor verloor het.

Die ongeluk het sowat 15km buite Worcester gebeur.

Volgens dié ma van twee seuns het die motor teen ‘iets wat soos ‘n rots of heuwel gelyk het’, tot stilstand gekom.

“Die impak was meer op my. Ná die ongeluk het almal uit die kar geklim, maar ek kon nie beweeg nie.

‘Here, wees my asseblief genadig’

“Ek het net die heeltyd gesê ‘Here, wees my asseblief genadig’.”

Coert vertel dat sy met ernstige, veelvuldige inwendige beserings na die Medi-Clinic in Worcester gehaas is.

“Ek het ‘n ernstige bekken-fraktuur opgedoen. My ribbes was gekneus en dit het my lewer geskeur.

“My milt en galblaas moes verwyder word.

“My regter-heup was mors-af en my linkerheup gekraak.

“Ek moes ‘n nood-operasie ondergaan en bloedoortappings kry.”

Coert sê terwyl sy in die waakeenheid in ‘n koma was, kon sy hoor hoe dokters sê daar is niks wat hulle meer vir haar kan doen nie en dat haar familie gekontak moet word om finaal van haar afskeid te kom neem.

Sy sê toe sy hoor daar is niks meer wat die dokters nog vir haar kon doen nie, was sy nie bang nie.

“Daardie woorde het geen impak op my gehad nie.

“Ek het nie toe aan my man en kinders of ouers gedink nie. Ek was gefokus op die Here en die genade wat ek van hom vra.”

Volgens Coert kon sy hoor hoe haar pa, Abe Johnson, en haar broer Ashley langs haar bed huil.

Sy sê terwyl sy op God se genade gewag het, het sy aanhoudend die koortjie “What a mighty God we serve” gesing.

Coert sê toe haar ma, Sheila Johnson, by die vertrek instap en haar naam noem, toe gaan haar oë oop en ‘n traan rol uit haar oog.

“Toe sy [my ma] dit sien, toe neem sy daar die besluit om te sê ‘God het die laaste sê’. ‘Hy’s die groot geneesheer en ons moet bid’.

“My ma het onmiddellik in gebed getree. Sy het geglo gebed is al wat my deur daardie krisis gaan dra.

“Baie mense is gevra om voorbidding te doen.”

Volgens Coert was sy vir sowat ‘n week in ‘n koma.

Verhouding met God het verdiep

Sy sê hoewel sy in ‘n “streng Christelike huis” grootgeword en haar op die ouderdom van 12 jaar tydens ‘n barmhartigheidsdiens bekeer het, het haar verhouding met God ná die ongeluk verdiep.

Volgens haar het sy meer intens met die Here begin kommunikeer.

Coert sê tydens haar herstel het sy op ‘n dag op Facebook gegaan op soek na moontlike Bybelkursusse om te doen.

“Ek het toe in 2017 ‘n sertifikaat in Teologiese Studies verwerf, my diploma in 2018 en my BA-graad in 2019.

“Hierna het my honneurs gevolg.”

Volgens haar het sy die eksamen-deel van die honneurs-kursus Cum Laude geslaag.

Sy sê weens die een uitdaging wat op die ander gevolg het, kon sy egter nie haar honneurskwalifikasie voltooi nie.

Volgens Coert is sy die afgelope 10 jaar jeugleier by die VGK in Adderleystraat.

Sy sê soms word sy genooi om die erediens te behartig.

Benewens die vrywillige pastorale berading wat sy by die Toevlug-rehabilitasiesentrum in Worcester doen, bied sy ook Sondae die program Babylon op Vallei FM aan.

“Ná die ongeluk leef ek met meer dankbaarheid. Ek is al hoe meer gefokus op gebed – meer as wat ek voorheen was.

“Ek is vandag ‘n lewende getuie van wat God kan doen. Hierdie ongeluk en die feit dat ek dit oorleef het, was vir my ‘n oorwinning.

“God het in werklikheid ‘n plan vir elkeen van ons. Die Almag van God het my van die dood gered.” – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article