Die BVM doen alles wat hy kan om by die vullisverwyderingsrooster te bly. Foto:


WORCESTER – ’n Agterstand met die munisipaliteit se vullisverwydering in die dorp heers al etlike weke.

“As gevolg van ’n onvoldoende aantal vulliskompakteerders beskikbaar, gekombineer met die ongunstige weer, het vullisverwydering by geleentheid agtergeraak,” verduidelik John Bulani, ’n woordvoerder vir die Breedevallei-munisipaliteit.

Dit blyk ook uit hul kommunikasie oor die probleem dat hul trokke dan en wan onklaar raak.

“Die vulliskompakteerders is gespesialiseerde voertuie. Die BVM het ’n vloot van nege. Wanneer die hidroulika daarvan breek, kan die BVM-werkswinkel nie die breekskade herstel nie. Die verskaffers wat dit wel herstel, werk ook aan ander kliënte se toerusting. Aangesien dit gespesialiseerde voertuie is, is die onderdele dikwels nie in voorraad nie en neem dit tyd om te bestel. Hierdie gekombineerde faktore lei dikwels daartoe dat voertuie vir lang tydperke buite diens is,” verduidelik Bulani.

Om die druk en probleem ’n bietjie te verlig, tref die BVM intussen tydelike reëlings.

“Die BVM huur ’n vulliskompakteerder om bykomende hulpbronne te verskaf terwyl ons eie vloot uitgeput is weens die trokke wat onklaar is. Ons probeer meer aanstel, maar ongelukkig is ons nie die enigste munisipaliteit wat hierdie uitdaging in die gesig staar nie en daar is ’n tekort aan vulliskompakteerders wat te huur is.”

Bulani verduidelik ook dat die munisipaliteit onverpoos daaraan werk om by die vullisverwyderingsrooster te bly.

“Ons werk sonder onderbreking om by die vullisverwyderingsrooster te probeer hou. Waar dit nie moontlik is nie, word opdaterings op sosiale media en WhatsApp-groepe voor sluiting van werksaamhede op die spesifieke dag gepubliseer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article