Die jaar 2022 kon vir ’n groep van Breedevallei se informele handelaars nie op ’n beter manier begin het nie nadat hulle broodnodige toerusting ontvang het om hul ondernemings van krag tot krag te laat gaan.
Die Informal Traders’ Upliftment Project (Itup) is in 2014 deur die Wholesale and Retail Seta in vennootskap met die nasionale departement van kleinsake-ontwikkeling begin.
Die doel van die projek was om altesaam 1 000 informele handelaars oor al nege provinsies behoorlik toe te rus sodat hulle meer mededingend kan wees en hulle so veel as moontlik werksgeleenthede kan skep.
Die nodige opleiding en mentorskap is verskaf tesame met die voorsiening van die nodige toerusting om optimaal te kan funksioneer.
Die Breedevallei-munisipaliteit het aan die projek deelgeneem en nadat al die inskrywings wat ontvang is deur die departement nagegaan is, is 20 informele handelaars gekies.
Die gekose kandidate het baie potensiaal getoon en kon die meeste by die program baat.
Hulle sal ook optimaal werksgeleenthede kan verskaf.
Hierdie informele handelaars het oor ’n tydperk van ses maande opleiding in ’n reeks onderwerpe by Boland-kollege ontvang, soos onder meer entrepreneurskap, bemarking en promosies, aankoopvaardighede en kliëntesorg.
As voog van die projek het die Wholesale and Retail Seta al die nodige toerusting wat die deelnemers vir hul onderskeie behoeftes geïdentifiseer het, verkry en voorsien.
Hier het die Breedevallei-munisipaliteit as tussenganger tussen die Wholesale and Retail Seta en die informele handelaars opgetree.
Reuse-opwinding het verlede Woensdag (19 Januarie) geheers toe die vragmotor uiteindelik met almal se voorraad en toerusting opdaag.
Die oorhandiging is deur Tumelo Kgoali (die departement se sakeontwikkelingsbeampte), dr. Julian Kritzinger (die BVM se burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling) en Colin January (bestuurder van plaaslike ekonomiese ontwikkeling) gedoen.
Freddie Lindoor, die voorsitter van die Breede Valley Informal Traders’ Association, het sy dank uitgespreek en gesê die projek wys hoe belangrik vennootskappe is om doelwitte te bereik.
Een van die informele handelaars wat toerusting ontvang het, is Jacqueline du Plooy.
Sy verkoop bedags negosieware aan die Hoogstraat-kant van Kerkplein.
Sy het ’n omkapmasjien, naaldwerkmasjien, springmieliemasjien en ’n gazebo ontvang en sê niemand sal kan verstaan wat hierdie toerusting vir haar beteken nie.
“Nou kan ek my onderneming uitbrei van net negosieware na die maak van kussingslope, bankoortreksels en gordyne, asook die verkoop van springmielies.”
Alicia Gerber is ’n vrugteverkoper wat bedags langs die Shoprite-ingang in Russellstraat sake doen.
Sy het ’n kisvrieskas, ’n ysmasjien en ’n vriesboks (“freezer box”) ontvang.
Sy sê hierdie toerusting stel haar nou in staat om haar onderneming van net vrugte ook na die verkoop van vars vis uit te brei.
Haar onderneming verskaf reeds vier werksgeleenthede en die toerusting sal haar in staat stel om vir haar dogter se studies te betaal, haar seun deur die skool te kry en haar ouers te help.





