Die saak van die staat teen Wilmur Valentine gaan weer op 9 Maart voort.

Valentine word aangekla van poging tot moord op sy vriendin, Erin Fourie. Hy het na bewering vir Fourie verlede jaar in haar klaskamer by ’n plaaslike skool aangeval en haar sowat 22 keer gesteek en vir dood gelos.

Dié voorval het inwoners oor die vallei heen geskok en baie het hul ondersteuning aan Fourie op Facebook gedeel.

Volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is die saak tot 9 Maart uitgestel vir pleit- en vonnisonderhandelinge soos voorsien ingevolge Artikel 105A van Wet 51 van 1977.

Fourie het verlede jaar in ’n onderhoud met Standard gesê sy het vrede gemaak met wat met haar gebeur het en dat sy nou ’n stem vir die vroue is wat nie so gelukkig was om dit te oorleef nie. “Ek het nooit gedink hy sal so ver gaan om so iets te doen nie. Maar ek het vrede daarmee gemaak en hopelik kom ek sterker daaruit om ’n stem te wees vir ander vroue wat dit nie oorleef het nie,” het sy verlede jaar gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article