Ricardo Steenberg met die enigste foto wat hy van sy suster, Baranita, het.Foto: Phiwo Mothemela/Argief


“Niemand gee om vir ons nie.”

Só sê Magriet Steenberg saggies. Dié bejaarde vrou is die ma van Baranita Steenberg (28) wat verlede jaar dood in ’n rolstoel by die Worcester-hospitaal gevind is. Haar familie het weke lank na haar gesoek voordat sy in die plaaslike lykshuis opgespoor is.

Ricardo, Baranita se broer, wat vir haar skoon klere wou bring nadat sy by ongevalle aangemeld het, is deur ’n veiligheidswag toegang tot die hospitaal geweier. Hy het vroeër haar lêer by haar by die ongevalle-afdeling gelos en huis toe gegaan om skoon klere te gaan haal nadat sy haar per ongeluk natgemaak het. Dit was die laaste keer dat hy haar gesien het.

Sy is glo later deur hospitaalpersoneel dood in die rolstoel aangetref, maar die hospitaal kon haar nie identifiseer nie en die gesin het drie weke lank na haar gesoek.

Magriet sit saam met haar kleinkinders onder ’n boom by hulle gesinswoning in Avianpark.

Standard het verlede jaar omvattend oor Baranita se dood berig, maar steeds is geen terugvoer van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement oor die omstandighede wat tot haar dood gelei het, ontvang nie.

Standard het talle e-posse na die minister, dr. Nomafrench Mbombo, se kantoor gestuur, maar het tot nou steeds geen antwoord gekry nie.

Nadat Baranita se familie haar ná die drie weke lange soektog in die lykshuis moes gaan identifiseer, is die jong ma uiteindelik in Desember begrawe.

“Ek is net dankbaar dat ons haar kon begrawe nadat ons so baie gesukkel het.”

Magriet vertel hulle as familie kon nie eens die kis by die huis oopmaak nie “want haar lyk was reeds beskadig”.

“Ons het absoluut niks van die hospitaal of die minister se kantoor gehoor nie.”

Volgens die familie wil hulle net antwoorde hê.

“Ons wil net hê iemand moet rekenskap gee van haar dood.”

Nomawethu Sbukwana, woordvoerder vir die minister, het verlede jaar al aangedui dat ’n ondersoek na die voorval ingestel is. Sbukwana het ook verlede jaar al belowe om die bevindinge van die ondersoek aan Standard te stuur, maar het nooit die belofte nagekom nie.

Dié koerant het sedertdien talle kere probeer om Sbukwana telefonies in die hande te kry, maar sy druk die foon dood.

“Ek het vir myself gesê dat niemand omgee nie, want ons het niks,” sê Magriet.

Die vrae wat Standard aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid gerig het, sluit in:

1. Waarom is Baranita se broer toegang tot die hospitaal geweier terwyl hy belangrike dokumente by hom gehad het?

2. Het die hospitaal die polisie van videomateriaal voorsien wat kon help om te identifiseer wie die pasiënt na die hospitaal gebring het?

3. Het die hospitaal ondersoek ingestel na wat tot die dood van Baranita gelei het – oor die redes waarom sy nie in die ongevalle-afdeling ondersoek is nie?

4. Het die hospitaal die familie gekontak en die situasie rakende die dood van hul geliefde verduidelik?

5. Hoe is dit moontlik dat die hospitaal Baranita nie kon identifiseer as haar lêer getrek is en saam met haar na die wag-area gegaan het nie?

6. Hoe is dit moontlik dat die hospitaal nie die versoeke van die familie kon koppel aan dié van die “onbekende vrou” wat dood in die rolstoel gevind is nie?

7. Gaan teen die veiligheidswag opgetree word? Indien wel, watter stappe gaan gedoen word? Indien nee, hoekom nie?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article