Wolseley-krieketklub het die pas afgelope naweek ’n besondere suksesvolle tyd op die veld beleef.
Net toe dit wou lyk of Wolseley hom vir ’n kort tydjie in die krieket-wildernis bevind, het die span bewys dat hy oor genoegsame karakter en veggees beskik om steeds mededingend te kan wees.
Eers het Wolseley Saterdag in Touwsrivier die tuisspan met een paaltjie geklop en Sondag in Wolseley vir Bergrivier met 69 lopies oorrompel.
In Touwsrivier het Wolseley werklik goeie karakter en veggees getoon deur Touwsrivier van agter in ’n dramatiese laaste boulbeurt van die wedstryd met slegs een paaltjie staande te klop.
Net soos in die T20-wedstryd was dit weer Audifion Davids wat Touwsrivier vir ’n tweede keer van hul vreugde ontneem het met ’n mooi vier, dié keer in die laaste boulbeurt van die dag. Dit het Wolseley triomfantelik oor die wenstreep gekry.
Vroeër het Touws, wat gevra is om eerste kolf, hom teen middagete in ’n gunstige posisie bevind met ’n redelike verdedigbare 172 na 47.2 boulbeurte. Touws se beurt was grootliks gebou op die mooi ankerbeurt van Carlo Solomons met 69* (3×4) en ook ’n goeie ondersteunende bydrae van 26 (3×4) deur Daverall de Klerk.
Wolseley se boulers het goed gedoen om Touws se kolwers in toom te hou met goeie akkurate boulwerk. Wilbur Pietersen (10-3-33-4), Jacques Esau (10-3-22-2) en Audifion Davids (9-3-24-2) was puik in dié afdeling.
Wolseley, wat sy beurt met groot verwagtinge aangepak het, het ’n stadige maar bestendige begin gehad danksy ’n 33 lopie-aanvangsvennootskap van 55 balle tussen Rashied September met 15 (2×4) en Damian Solomons met 12 (4×1).
’n Paar vinnige paaltjies het die span ná 25 boulbeurte op 82/5 in die moeilikheid gehad. Dit was dan ook van hier af waar Wolseley karakter en veggees begin toon het. Voor in die koor was die kaptein Leonard Prins wat pragtig met sy voorbeeld gelei het. Sy vegtersbeurt van 38 (1×4) in 135 minute en 82 balle was vir sy span goud werd. ’n Pragtige 50-lopievennootskap in 48 minute vanaf 74 balle tussen Prins en Dixon Minnaar met 28 (2×4) het Wolseley se hoop lewend gehou, asook binne trefafstand van Touws.
Prins se kapteinsbeurt het die geskikte platform geskep vir Audifion Davids om Wolseley diep in die beurt op skouspelagtige wyse oor die lyn te help met slegs een paaltjie staande.
Wat die boulwerk betref het Touws se Clive Jacobs (10-4-24-2), Hilton Rooi (10-0-42-3) en Marvin Smith (6.2-1-17-1) bestendig met die bal gevaar.
In Wolseley het die tuisspan se tweede bestes Touwsrivier baie gemaklik met agt paaltjies verslaan in ’n wedstryd waar die lopies so skaars soos hoendertande was.
Sondag in Wolseley het die tuisspan sy wenmomentum voortgesit toe hy die hoog aangeskrewe Bergrivier van Wellington in ’n kliniese stryd met 69 lopies oorrompel het met ’n bonuspuntoorwinning.. Die komende naweek kom die liga tot ’n einde met Wolseley wat gasheer speel vir Young Peoples en in Wellington speel Bergivier gasheer vir Touwsrivier.



