Die Organisasie teen Belastingmisbruik (OUTA) het die onlangse eise van Eskom en sekere munisipaliteite – dat huishoudings hul kleinskaalse sonkraginstallasies moet registreer – as onprakties, irrasioneel en onregverdig verwerp.
Hierdie teenkorrupsie-waghond, OUTA, het Eskom en plaaslike owerhede gekritiseer vir hul dreigemente oor registrasie van sonkrag as onredelik en onregverdig. Die organisasie sê dit het ‘n toename in navrae van die publiek ontvang ná dreigende kommunikasie van Eskom en munisipaliteite, insluitend die Stad Johannesburg, wat vereis dat huishoudings kleinskaalse ingebedde opwekkingstelsels (SSEG) onder 100 kW – wat nie krag in die netwerk terugvoer nie – moet registreer of vooraf goedkeuring moet verkry.
OUTA het ook opgemerk dat daar reeds beduidende wysigings aan vroeëre vereistes en sperdatums gemaak is, wat volgens hulle onsekerheid en onduidelikheid aangaande die owerhede se verwagtinge skep.
“Wat op die spel is, is die regte van landsburgers, wat groot geld uitgegee het om hulself teen jare se stygende elektrisiteitspryse en ‘n onbetroubare kragnetwerk te beskerm,” het Wayne
Duvenage, die uitvoerende hoof van OUTA, gesê.
Volgens hom het mense in sonkragstelsels, kragopwekkers, omsetters en ander alternatiewe voorsienings belê om aan te pas by die oproepe van Eskom en die regering om elektrisiteitsverbruik te beperk.
Die huidige onsekerheid het daartoe gelei dat sonkragprojekte vertraag word en dat finansierders, versekeraars en installeerders in baie gevalle onseker is hoe om verder te werk.
OUTA waarsku finansieringsinstellings en versekeraars om nie finansiering of versekering vir residensiële sonkraginstallasies op grond van hierdie verwarring te weier nie. Die organi-
sasie moedig huiseienaars aan om alternatiewe diensverskaffers te vind wat bereid is om veilige en regmatige installasies te ondersteun, mits ‘n geldige Sertifikaat van Nakoming (CoC) deur ‘n gekwalifiseerde en geregistreerde elektrisiën uitgereik word.
Duvenage sê: “Wat ‘n huiseienaar agter die meter op sy eie erf doen om sy afhanklikheid van onbetroubare en duur kragleweransiers te verminder, is nie die besigheid van die diensverskaffer nie, mits die installasie veilig en wettig is en die klant steeds volgens kontrak vir sy elektrisiteit betaal.”
Hy sê verder die situasie is vergelykbaar met die e-tol-sage, waar die owerhede die fout maak om te dink dat nuwe prosesse met dreigemente en regulasies deurgedruk kan word, terwyl uitvoerbaarheid, rasionaliteit en openbare aanvaarding die belangrikste vir implementering is.
Die organisasie het ook verwys na verskeie wetlike struikelblokke waaraan sy regspan tans aandag gee.
Volgens OUTA vereis die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, die Elektrisiteitsinstallasieregulasies en die nasionale standaard SANS 10142-1 dat ‘n residensiële elektriese installasie – waaronder sonkrag – ‘n geldige CoC moet hê, uitgereik deur ‘n geregistreerde elektrisiën, voordat die stelsel in werking gestel word.
OUTA beskryf die onlangse briewe van Eskom en sommige munisipaliteite aan verbruikers asook openbare verklarings as intimidasietaktiek wat op vrees speel om onnodige nakomingsvereistes af te dwing.
Die organisasie het daarop gewys dat Eskom hul houding oor afsluitings en boetes onlangs versag het, wat aandui daar is onsekerheid en dat hul beplannings nie met hul bevoegdhede ooreenstem nie.
OUTA het aangedui dat hulle voortgaan om met belanghebbendes te skakel om te verseker dat rasionaliteit seëvier en om elektrisiteitsgebruikers teen onwettige en onredelike administratiewe optrede te beskerm.





