Die Neethling-gesin van Worcester het op 12 April die skoknuus ontvang dat akute limfoblastiese leukemie (ALL) by hul sewejarige seun, Christiaan, gediagnoseer is.
Volgens Anneke Neethling, Christiaan se ma, voel die werklikheid steeds soos ’n droom waarvan sy wag om wakker te skrik.
Sy vertel dat haar bruinoog- babbelbekkie ’n maand en ’n half gelede sy regterhand en twee weke daarna sy elmboog gekraak het, en daarna pal bleek in die gesig was.
Die Neethling-gesin het eers aangeneem dit is as gevolg van die pyn weens die breuke, maar Paasnaweek het Christiaan, wat ’n leerder is in aan Worcester-Noord Primêre Skool, agteroor geval en die spiere in sy rug seergemaak.
Sy ouers het toe besluit om bloedtoetse te laat doen, en ’n paar dae daarna – op 12 April – die hartverskeurende nuus ontvang dat akute-B leukemie by klein Christiaan gediagnoseer is.
Akute limfositiese leukemie (ALL) is ’n soort kanker wat jou bloed en beenmurg aantas. B-sel- akute limfoblastiese leukemie is die mees algemene vorm van ALL in kinders sowel as volwassenes.
Christiaan ontvang sedertdien elke Maandag, Woensdag en Vrydag chemoterapie by die Tygerberg-hospitaal.
“Die dokters doen ook daardie drie dae bloedtoetse om te kyk hoe die kanker lyk, wat dan sal bepaal hoe lank hy chemoterapie moet ontvang,” vertel sy besorgde ma.
Vir nou is die bepaalde behandelingstydperk drie maande, maar hierdie tydperk kan moontlik verkort of verleng word.
“Elke dag is ’n roller coaster,”het Anneke telefonies aan Standard gesê. Volgens haar is daar geen resep vir klein Christiaan se gemoed of fisieke gesondheid nie, en die Neethling-gesin se nuwe normaal is om elke dag aan te pak soos dit gebeur.
Buiten die laerugpyn as gevolg van die chemobehandeling wat in die rug toegedien word, die moegheid en kopsere, bly Christiaan positief, sê sy ma.
“Christiaan se positiwiteit is aansteeklik. Hy sê hy baklei teen die kanker en voel nie siek nie.”
Buiten die bloedtoetse en chemoterapie word die vegtertjie ook deur ’n fisioterapeut behandel om sy spiere sterk te hou terwyl die chemoterapie deur sy spiere beweeg.
Hierdie aspek is volgens Anneke ook belangrik, want wanneer die spiere pap raak, kan die chemobehandeling nie vinnig genoeg deur die spiere beweeg om die kanker te bestry nie.
Die gesin wag ook op nuus wat sal verduidelik hoe ver die kanker versprei het.
Die Neethling-gesin is nie lid van ’n siekefonds nie en moet alle mediese onkostes self dek.
Indien lede van die publiek ’n skenking wil doen, sal dit baie waardeer word. Dit kan gestuur word na Capitec, spaarrekening 2116226828. Die rekeninghouer is Christiaan Neethling.
Worcester Primêre Skool hou ook hierdie komende Vrydag ’n fondsinsameling vir Christiaan waar leerders R5 kan betaal om “civvie” klere te dra, en daag ook ander skole uit om dieselfde te doen.
Volgens Anneke is sy en haar gesin “baie dankbaar” vir die hulp van Breedevalleiers.





