Die moordenaars van ’n Bonnievalese boer in 2019 is uiteindelik gevonnis.
Ntabanyane John Tlali, Thabiso Nomoro Ramollo, Moeketsi Max Hlaudi en Keketso Thabang Matsabisa is verlede week in die hooggeregshof lewenslange tronkstraf opgelê.
Die moordenaars het Maandag 13 Mei 2019 vir Jurie Tool Wessels en sy vrou, Liezl, in hul huis op die plaas Kapteinsdrift gemartel.
Jurie is noodlottig gewond terwyl sy vrou daarin geslaag het om na ’n buurplaas te ry en hulp te vra.
Drie van die verdagtes is in 2022 deur Lesotho uitgelewer. Die vierde verdagte is reeds in 2019 in hegtenis geneem. Hulle was almal seisoenwerkers op die plaas.
Hulle het die aand van 13 Mei die Wessels-paartjie ook van ’n .22-geweer, .38 Special-rewolwer, ammunisie vir albei vuurwapens en R115 000 kontant beroof.
In ’n mediaverklaring wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag ná die vonnisoplegging uitgereik is, skryf Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die NVG, wat die landdros gesê het:
“Ek stem saam met die voorleggings namens die aanklaer dat die openbare belang voldoende gedien moet word in die vonnisoplegging van hierdie oortreders, met inagneming van die aard van die misdade en die uitwerking op die samelewing en die plaaslike boeregemeenskap.
“Afskrikking en vergelding is dikwels geneig om die erns van die voorgestelde vonnis in ’n spesifieke rigting te stuur.
“Rehabilitasie, aan die ander kant, is geneig om die voorgestelde vonnis in ’n ander rigting te trek.
“Om te veel op rehabilitasie in hierdie saak te fokus, sal myns insiens lei tot ’n onbillike en onvanpaste vonnis, wat buite verhouding sal wees tot dié wat die oortreders verdien vir die misdade waaraan hulle skuldig bevind is.”
Die mans is almal lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord, 10 jaar direkte gevangenisstraf vir poging tot moord, 15 jaar direkte gevangenisstraf vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar gevangenisstraf vir die twee aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en drie maande vir oortreding van artikel 49 (1) (a) gelees met artikels 1 en 9 van die Immigrasiewet 13 van 2002, deurdat die beskuldigde die Republiek van Suid-Afrika binnegekom en/of vertrek het in stryd met die Immigrasiewet 13 van 2002 sonder die nodige statutêre dokumentasie.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het ook deur middel van ’n mediaverklaring gesê: “Hierdie skuldigbevinding en vonnisoplegging bring ons ’n stap nader daaraan om geregtigheid vir Tool Wessels, sy gesin en die boeregemeenskap van Bonnievale te verseker. Die skuldigbevinding en lang straf wat regter Dereck Wille van die rondgaande hooggeregshof opgelê het, stuur ’n sterk boodskap dat aanvalle op ons landelike gemeenskappe nooit geduld sal word nie. Ek is egter steeds verpletter deur hierdie lewensverlies en my hart is steeds seer vir Tool, sy familie en geliefdes. ’n Aanval op enigiemand in ons landbousektor is ’n aanval op ons landelike ekonomie.”
Lt.-genl. Thembisile Patekile, die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, het die ondersoekspan verbonde aan die provinsiale polisie- eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad vir puik ondersoek geprys wat gelei het tot die skuldigbevinding en uiteindelike vonnisoplegging van vier Lesotho-burgers.




