Terwyl die weer sy woede oor Bethlehem uitgewerk het, het Witteberg se verdediging net so onwrikbaar gestaan. Die span het op Saterdag 28 Februarie met 17-12 oor Wesvalia geseëvier in ‘n wedstryd wat deur swaar weer tot slegs 25 minute per helfte verkort is.
“Witteberg het die wedstryd gewen oor ons rots vaste verdededing. Wesvalia kon net nie die lyn breek nie,” het Christo van der Nest, direkteur van rugby by Witteberg, na die wedstryd gesê.
Albei spanne het uitgestorm met die voorneme om hoëtempo-rugby te speel, maar die elemente het ander planne gehad.
Witteberg het die wedstryd oopgebreek met ‘n klassieke voorspel-drie toe hulle haker na ‘n kragtige dryfmaal weggebreek het om te gaan druk. Die manne van Klerksdorp was egter nie van plan om plat te lê nie en het in die 23ste minuut hulle eie vyf punte op die bord gesit.
Die verkorte eerste helfte was op ‘n messepunt, met die telling op 5-5 teen halftyd. Witteberg se agterlyn het gevaar uitgespel met spoed en vaart, terwyl hulle skrums die Wesvalia-pak onder ernstige druk geplaas het.
Wesvalia het die tweede helfte met ‘n opsweper begin. ‘n Perfek uitgevoerde lynstaan het hulle met 12-5 voor gesit , en dit het gelyk asof die Bruinbere die oorhand sou kry. Maar hanterings-foute onder druk het ingekruip en die momentum het weer na Witteberg toe gedraai.
Witteberg het in die 36ste minuut teruggeveg toe ‘n dryfmaal die span regdeur die Wesvalia-verdediging gedra het. 12-12, en slegs 10 minute op die horlosie oor.
Die wen oomblik het in die 39ste minuut gekom toe Witteberg deur die middelveld gebars en die wen-drie onder die pale gedruk het. Die 17-12 voorsprong was genoeg om die seisoen met ‘n oorwinning te begin.
“Dit is die eerste wedstryd van die seisoen ons voorbereidings tyd was maar min. Ons het baie geleer uit die wedstryd uit, wat ons gaan help om die span meer af te rond vir die volgende wedstryde,” het Willem van der Sandt, direkteur van rugby by Wesvalia, erken.
Op die dag was Witteberg die meer afgeronde span, en hulle verdediging het die verskil gemaak wanneer dit saak gemaak het. Die Bruinbere sal egter weet presies waar hulle moet verbeter voor die seisoen ernstig raak.





