Die atmosfeer was met afwagting gelaai toe Steenberg’s Cove die afgelope Saterdag (2 Augustus) die berugte “Grafkelder” vir hul Grootuitdaagbeker-kragmeting teen Young Hearts betree het.
Wat beloof het om ‘n taai stryd te wees, het vinnig in ‘n rugbyles van formaat ontaard.
Young Hearts, wat vroeër in die kompetisie ‘n terugslag in hul vermoë beleef het, het Saterdag gewys hoekom hulle as voorloper uit die eerste ronde gestap het.
Die manne van Pella het van die afskop af hul bedoelings duidelik gemaak – vinnige balverspreiding, aggressiewe lynbreke en ‘n speltempo wat Steenberg’s Cove se verdediging laat stoom het.
Steenberg’s Cove het aanvanklik dapper probeer om die vlugvoetige Hearts-agterlyn in toom te hou, maar die damwal het vinnig begin lek.
Teen rustyd was die telling reeds 38-7 in Young Hearts se guns – ‘n duidelike aanduiding van hul oorheersing in balbesit, taktiese uitvoering en afwerking.
Die tweede helfte het min genade gebied. Young Hearts het hul momentum voortgesit en nog 33 punte by hul telling gevoeg, terwyl Steenberg’s Cove se verdediging al hoe meer onder druk geknak het.
Die eindtelling (71-7) vertel die volle verhaal van ‘n wegholoorwinning wat min ruimte vir verskonings laat. Steenberg’s Cove se afrigter het sy span tydens rustyd met harde woorde toegespreek, maar die taktiese aanpassings het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Die Agterbaaiers sal diep moet delf en hul spelstruktuur voor die volgende ronde moet hersien.
Ná die wedstryd het Weslander met Fernando Daniels,Young Hearts se hoofafrigter, gesels. Sy insigte was nugter en strategies. “Ons het nie met ‘n volle span gespeel nie, want ons hele lostrio en slotpaar was afwesig. Tog was dit bemoedigend om te sien hoe die spelers op die veld ons spelpatroon kon afdwing. Ons het die wedstryd in byna alle aspekte oorheers, maar ons afronding was nie op peil nie. Die telling kon heelwat hoër gewees het.”
Daniels het beklemtoon dat die span karakter toon en dat die komende wedstryde as toetsbank vir verdere groei sal dien. “Ons neem die positiewe saam, maar ek is eerlik – ons het nog baie werk wat voorlê. Met die regte aanpassings glo ek ons sal sterker terugkom.”
Young Hearts het hul titelaspirasies met ‘n klinkende oorwinning herbevestig, terwyl Steenberg Cove met ‘n duidelike boodskap huis toe is. Die Grootuitdaagbeker het egter geen plek vir halfmas-spel nie.
Die volgende rondes beloof om net so intens te wees – en albei spanne weet nou presies wat op die spel is.
Ander uitslae:
Weskus
Hopefield 39-19 Piketberg,
Paternoster 42-3 Goedverwacht,
St. Helena 20-18 Vredenburg,
Velddrif 67-32 Langebaan,
Young Hearts 71-7 Steenberg Cove.
Swartland
Abbotsdale 40-36 Wesbank,
Mamre 46-19 Villagers Wittewater,
Moorreesburg 34-38 Riebeeck United,
Never Despair 53-24 Voorberg,
Saron 20-16 Good Hopes.
• Wedstrydbepalings vir die Weskusstreek hierdie Saterdag (9 Augustus): Tuisspan eerste: Vredenburg teen Saldanha, Goedverwacht teen St. Helenabaai, Piketberg teen Paternoster, Steenberg Cove teen Hopefield en Langebaan teen Young Hearts.





