Met sy jongste enkelsnit, Sommer so, bewys Wouter van de Venter van Langebaan weer hoe eer- like en reguit Afrikaanse musiek steeds diep tref.
Die lied is rou, eg en deurdrenk met ‘n vasberadenheid wat soos ‘n refrein deur elke vers klop: jy gaan nie lê nie – nie vandag nie, nie môre nie.
Sommer so het sy ontstaan gehad in Julie verlede jaar, ‘n tyd wat Wouter doelbewus gebruik om te skryf.
“Junie-maande is mos maar stil in die bedryf, so ek gebruik gewoonlik daai tyd om te skryf,” vertel hy.
Saam met twee ander liedjies, Poppe dans en Jonk en verlief, het Sommer so in daardie kreatiewe venster vorm aangeneem.
Hoewel die lied sterk emosies dra, is dit nie gebore uit een spesifieke gebeurtenis nie. Die gevoel van alles wat “onderstebo” draai, is eerder iets waarmee hy en baie ander gereeld kan identifiseer.
“Ek voel, en ek is seker baie mense kan relate, nogal gereeld so,” sê hy.
Die beeld van ‘n koue see en ‘n storm staan sentraal in die lied. Dit simboliseer die moeilike tye wat elke mens beleef.
“Nie alles is altyd maanskyn en rose nie,” sê Wouter. “Maar dit hang van jou af hoe jy daardeur gaan kom.”
Vir Wouter is deursettingsvermoë nie onderhandelbaar nie.
“As jy gaan lê is dit neusie verby, jy kan nie gaan lê nie!” sê hy met oortuiging. Dis
hierdie ek-sal-nie-gaan-lê-nie-mentaliteit wat die hart van Sommer so vorm.
Sy vrou, Anita, speel ‘n sentrale rol in sy kreatiewe proses. “Anita, my vrou, is my grootste inspirasie deur my hele loopbaan.”
Hierdie liefde gee nie net stabiliteit nie, maar ook die emosionele brandstof wat sy musiek dryf.
Sommer So bevat ook ‘n skerp waarneming van die wêreld rondom ons. As hy dié lied in drie woorde moet opsom, kies Wouter “real, eerlik, inspireer.”
En dit is presies wat die lied doen. Dit erken die rowwe dae, maar dit bly nie daar vassteek nie. Dit kies om vorentoe te beweeg. Wanneer die laaste note wegsterf, hoop Wouter dat mense positief sal voel. Dat hulle sal onthou die son skyn weer. Dat môre ‘n nuwe kans bring.
Met dié enkelsnit lewer Wouter nie net ‘n lied nie, maar ‘n lewenshouding wat sê: al voel alles vandag onderstebo, môre vat ek die wêreld oor, sommer so.





