Weslander se weeklikse, gedrukte weergawe is van vandag (Donderdag 5 Maart) af gratis, dieselfde nuus, maar meer mense gaan bereik word.

Nadat die koerant vir 54 jaar by betaalpunte en op straat verkoop is, neem Weslander ‘n historiese stap om na ‘n gratisverspreidingsmodel oor te skakel. Hierdie besluit beteken dat ons lesers wat nog hou van ‘n koerant in die hand nou makliker as ooit tevore toegang tot plaaslike nuus het.

Die verandering maak dit moontlik om die koerant na meer afsetpunte te versprei en die gedrukte sirkulasie aansienlik te verhoog.

“Ons reken dat ongeveer drie keer meer mense die koerant sal sien – ‘n groot sprong in ons lesersgetalle,” het Stefan Kolver, uitgewer, gesê. “Die sirkulasie mag dalk groter wees, maar die kern van Weslander bly dieselfde: geloofwaardige, plaaslike nuus wat ons lesers vertrou, of dit nou in die gedrukte koerant, op die webwerf of via sosiale media verskyn.”

Weslander se inkomstemodel

verander van ‘n “betaalde-waarde” na ‘n “bereik-gebaseerde waarde”, wat beteken dat die fokus nou meer is op hoe wyd en hoeveel lesers Weslander bereik.

Spesiale aanbiedinge soos insetsels, bylaes en advertensie-artikels sal voortduur, sommige selfs uitsluitlik aanlyn as e-publikasies. Die gedrukte koerant word reeds tesame met ons gratis aanlyn-strategie van daaglikse plasings van brekende nuus beplan. Die kernboodskap is duidelik: Weslander word nie kleiner of minder relevant nie. Inteendeel, ons reikwydte word groter en ons inhoud meer toeganklik. “Gratis beteken nie minder waardevol nie,” sê die redaksie.

Wat verander?

Weslander is nou meer toeganklik, die die sirkulasie of lesergetalle spring drie- voudig wat Weslander meer toeganklik maak vir lesers en adverteerders.

Wat bly dieselfde?

Ons redaksionele waardes, geloofwaardigheid en fokus op plaaslike nuus, tesame met spesiale aanbiedinge. Hiermee vier die koerant sy lang geskiedenis, en beloof daarmee steeds plaaslike nuus, gratis, en binne almal se bereik.

Die span van Weslander het vanoggend in die hoofstraat van Vredenburg koerante uitgedeel
Stefan Kolver (uitgewer), Yvette Smith (advertensies), Alida Buckle (redakteur), Madelie van Tonder (advertensies), Noluvu Ludidi (joernalis) en Linda Luyt (ontvangs en geklassifiseerde advertensies) het vanoggend in die strate van Vredenburg koerante uitgedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article