Vir baie leerders is dit ’n droom om aan hul skool se Meneer en Mejuffrou-glansaand deel te neem.
Vir Mia Liebenberg ’n gr. 12-leerder van Longacres Privaatskool, het die droom nie net ’n werklikheid geword nie, maar het sy boonop behoorlik die koppe laat draai toe sy in haar eie uitrusting, gemaak uit ou Weslander’s, op die loopplank geparadeer het.
Meneer en Mejuffrou Longacres Privaatskool (LAPS) se glansaand is op Donderdag 16 Mei gehou.
Volgens Mia was dit ’n opwindende en stresvolle ervaring.
“Maar dit was lekker om met my mede-skoliere ’n nuwe dans te leer en om pret te hê,” vertel sy. “Ek het besluit om deel te neem om meer leerders wat introverte is te inspireer om uit hul boks te klim en om hulself te wees in ’n wêreld waar sulke goed vir ekstroverte maklik is.”
Wat die geleentheid nog meer spesiaal gemaak het, is dat die leerders een van hul uitrustings self moes maak. Mia het besluit om herwinbare materiaal eie aan die Weskus te gebruik en haar eerste keuse was Weslander-koerante. Die boonste gedeelte van die rok was ’n korset wat sy op haar lyf met papier maché gemaak het. Die onderste gedeelte was gevoude Weslander-koerante wat sy op ’n rompie vasgewerk het. “Tot my skoene het ek met Weslander’s gegom om die uitrusting af te rond.”
Mia het wel nie Mej. LAPS 2024 gewen nie, maar die ondervinding was vir haar ’n pretgeleentheid wat sy nooit sal vergeet nie.





