Plaaslike sakekamers in die Weskus gaan voortaan hande vat om die gebied beter te bemark en as ‘n samewerkende beweging betrokke te raak by gesprekvoerings met verskeie rolspelers, soos onder meer plaaslike munisipaliteite en ander vennote.

Die nuutgestigte groep, Joint Business Chambers and Forums – Weskus, sal ook poog om sakekamers te help om streeksaktiwiteite te koördineer en kundigheid te deel.

Van links is Eugene Du Toit (West Coast Black Business Alliance), Dirk van der Walt (Langebaan-sakekamer), Enrico Adams (West Coast Black Business Alliance), Johnny Sinden (Langebaan-sakekamer), Kim Pastor (Velddrif-sakekamer), Gary Badenhorst (Weskus-sakekamer), André Truter (SBM-burgemeester), Stoan Bartel (St. Helenabaai-sakekamer) en André De Villiers (Weskus-sakekamer). Foto: Danie Hefers

Vier bestaande sakekamers, die Langebaan-sakekamer, die St Helenabaai-sakekamer, die Velddrif-sakekamer en die Weskus-sakekamer, is betrokke by die beweging.

Die West Coast Black Business Alliance het die groep sakekamers se tweede vergadering vroeër die maand in Langebaan bygewoon, en oorweeg moontlike toekomstige betrokkenheid by die beweging.

Die groep is sowat ‘n maand gelede gevorm en volgens Dirk van der Walt, voorsitter van die Langebaan-sakekamer, behou elke sakekamer steeds sy eie fokus, maar deel ‘n gemeenskaplike doel van streeksgroei en samewerking.

“Ons kan meer effektief met munisipaliteite en ander rolspelers skakel indien ons sakekamers se pogings saamsnoer.”

Volgens André De Villiers, die voorsitter van die Weskus-sakekamer, gaan die beweging samewerking tussen die lede bevorder. “Die Weskus het groot moontlikhede en ons is sterker as ons saamwerk.”

Die onlangse vergadering in Langebaan is ook bygewoon deur André Truter, die Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester.

Die groep beoog om gereeld te vergader en sy strukture in die komende maande te formaliseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article