Graanboere in die Wes-Kaap is steeds druk aan die koring oes. In die onderskeie Weskus-landbougebiede is opbrengste tans plek-plek bogemiddeld terwyl die gehalte, soos graad en proteïeninhoud, wisselvallig is.
Volgens SP Tredoux, Agri Wes-Kaap se streekbestuurder in die Weskus wat Porterville, Eendekuil, Sandveld, Hopefield, Piketberg en Vredenburg insluit, is saaiboere veral bekommerd oor die toekoms van die koringbedryf.

“Dit is tans uiters moeilik om ‘n bestaan te maak in die graanbedryf. Veral boere se insetkostes is ‘n probleem. Ons sit tans met verpligte, vasgestelde aftrekkings van byna R1 000 per ton nog voordat boere enigsins hul graan bemark of gradeer het.
“Dan is daar nog Eskom, diesel en lone wat betaal moet word. Dit is kommerwekkend wat tans in die landbou gebeur. Daar is té veel knellende aftrekkings op ons graan. As dit afgeskaf word, kan dit boere help om te oorleef. Tans is gemengde boerdery jou enigste kans op oorlewing,” sê Tredoux.
Volgens Tredoux, wat self ‘n bekende graanboer in die Sandveld is, maak die gebied se reënval en grondgehalte dit moeilik vir Weskusboere om supergraad-koring te lewer.
“Boere is uitgelewer aan ‘n wisselvallige en onvoorspelbare natuur én meulenaars wat die prys van ons koring bepaal.”
Veral die verpligte vervoerdifferensiaal van R792 per ton wat koringboere moet opdok, is al vir dekades ‘n knelpunt in dié landboubedryf.
Dié heffing word bepaal volgens slegs een verwysingspunt in die land, naamlik Randfontein in Gauteng.
Tans word sowat 80% van koring wat in die Wes-Kaap geproduseer word in die provinsie verwerk.
Alle koring word egter hanteer en geprys asof dit Randfontein toe vervoer word. Kenners en boere meen dié omstrede stelsel is uitgedien en behoort hersien te word.
Volgens hulle is net een verwysingspunt om die bestaande vervoerdifferensiaal te bepaal ondoeltreffend en kan meer verwysingspunte nader aan bestaande landbougebiede die land se koringboere miljoene spaar.
“Meulenaars behoort die vervoerdifferensiaal te betaal. Dit kan dan van die verbruiker verhaal word met verhoogde broodpryse,” sê Tredoux.
Volgens Tredoux is meulenaars se invloedryke rol in die land se sukkelende koringbedryf ook ‘n bron van frustrasie en kommer.
“Meulenaars voer sowat 600 000 ton koring in en plaas sodoende druk op plaaslike saaiboere om ‘n billike prys vir hul graan te kry.
“Die gehalte van ingevoerde koring is laer as ons plaaslike graan en dit is kommerwekkend dat grootskaalse graaninvoere net vóór ons eie oesseisoen plaasvind.
“Ek sou wou sien dat daar sekere beperkings moet wees en dat ingevoerde koring ook onderhewig is aan ‘n vervoerdifferensiaal.”
Volgens Tredoux moet landbougebiede in die Wes-Kaap ook afsonderlik beoordeel word wanneer regeringshulp oorweeg word.
“Die regering behoort in te gryp. Dit is ‘n ramp waarin boere hulle bevind.”






You must be logged in to post a comment.