Die Weskus se twee top-krieketspanne, Hopefield Wanderers (Promosie-liga) en Vredenburg Saldanha Krewe (Premier-liga), het in hul laaste T20- en voorlaaste Boland Superliga-wedstryde (BSL) van die seisoen teen onderskeidelik Darling KK en Maties KK vasgeval. Die Krewe se laaste BSL-wedstryd teen Paarl KK is weens reën afgelas.
Dit was nie ‘n goeie seisoen vir die Krewe nie. Van die agt wedstryde is net een teen Van der Stel KK gewen, met 27 lopies. Teen die Maties op 27 Februarie op Bolandpark het die Krewe die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar die kolfblad het nie saamgewerk nie.
Net Cecil Jooste (17 van 24 balle) en Thomas Kannemeyer (50 van 45 balle) het dubbele syfers behaal, terwyl die ander kolwers teen die Maties se boulers gesukkel het en die span tot 107/8 beperk is.
Maties het die teiken van 108 in die 12de boulbeurt oorgesteek, met Jason Muirhead wat die wenlopies met ‘n sierlike ses gemoker het. Die oorwinning van 7 paaltjies het hulle na die eindstryd teen Van der Stel op 2 Maart gelei, wat Maties ook met 8 paaltjies gewen het en sodoende die BSL-titel vir die tweede keer verower het. Devon Smith was die Krewe se beste bouler met 2 paaltjies in 3.1 boulbeurte vir 38 lopies.
Op Sondag 1 Maart het Hopefield Wanderers KK na Darling gereis waar hulle die tuisspan op die Gabriel F.Pharoah sportterrein in hul laaste T20-kompetisie gepak het. Wanderers kon egter nie uit Darling se greep ontnsap nie en is tot 113/9 in hul toegelaate 20 beurte beperk wat Darling ‘n oorwining van 70 lopies verseker het.
Die verloor het Wanderers se kanse om te kwalifiseer vir die Boland Wes Promosie T20 liga teen Wolseley verydel. Darling sal nou die geleentheid kry om te sien as hy die T20 titel by die liga titel kan voeg teen Wolseley. Die eindstryd vind plaas eerskomende Saterdag(7 Maart) op die Gabriel F. Pharoah in Darling. Die wedstryd skop af om 14:00 tussen die twee top klubs van Oos en Wes streke.
As die eerste houer van die Johnson “Toenkie” Papier-trofee sal Darling volgende jaar die eer hê om die gesogte prys in Hopefieldteen Wanderers te verdedig. Die trofee, en getekende T-hemp van Papier, dien as ’n unieke simbool van sy nalatenskap en wat ’n tasbare herinnering aan die bydrae wat hy tot plaaslike krieket gelewer het.





