Die naweek van die Weskus-kuierkonsert het aangebreek.
Maak gereed vir ‘n dag vol musiek, dans en pret. ‘n Fees waar daar iets vir almal, jonk en oud, is.
Die geleentheid vind Saterdag 7 Maart by die Laaiplek-hotel in Velddrif plaas.
Gaste by die fees kan uitsien na kunstenaars soos Snotkop, Jak de Priester, Desmond Wells en talentvolle plaaslike kunstenaars soos Gerrie West, Bokkom & V’tsek, en Ek’s Nadia.
Volgens Steyn Fourie, die stigter, is ‘n sleutelfokus van die Weskus-kuierkonsert die positiewe invloed wat dit op die hele dorp het. “Die fees skep ‘n lewendige atmosfeer en gee ‘n betekenisvolle ekonomiese hupstoot aan die omgewing as geheel. Die fees sluit elke jaar ook ‘n gemeenskapsopheffings-projek in. “Vanjaar bederf ons bejaardes met skootkombersies, mussies, serpe, ensovoorts. Om terug te gee, lê ons na aan die hart, en hierdie inisiatief stel die fees in staat om werklik ‘n verskil te maak – buiten die vermaak,” voeg Fourie by.
Vir skaduwee, veilige parkeerplek en goeie herinneringe, wees om 15:00 daar wanneer die hekke open. Ondersteun die stalletjies en smul lekker aan al die kosverkopers se produkte.
Kaartjies is aanlyn te koop by weskustickets.co.za of by die Laaiplek Spar, sowel as die dag van die konsert by die hek.
Kaartjiepryse beloop vir volwassenes R149, hoërskoolkinders R79, laerskoolkinders R49 en pensioentrekkers betaal R99.





