Godsdiens is – soos rugby – ‘n ernstige saak. Hoewel aansienlik meer kerkgeboue in die Weskus-landskap sigbaar is, het elke dorpie minstens een rugbyveld. Soms moet jy ‘n stofpad daarheen volg, anders dalk tussen die wingerde langs die rivier speel met die bus as jou kleedkamer. Op ‘n goeie dag dalk op ‘n hakiesdraad omheinde, onkruidgroen “vlakkie”.
Ongeag die oppervlak, verteenwoordig elkeen van hierdie ruimtes ‘n plek van drome – aanvanklik die Boland-rugbyunie se Top-12 (die kampioen-van-kampioene- kompetisie); later miskien die provinsiale span. Nog later, soos Ricky January, Shilton van Wyk, Donovan Don en Ryno Benjamin, dalk ‘n Springbok? Streek-uitdaagklubs, veral, se droom is meer onmiddellik – om aan die “wingerd-liga” en die “stofpad” (rugby in plaasgemeenskappe) te ontsnap.
Om ‘n “site” oftewel ‘n plek in die dorpspan te hê, is die “main ding”, soos hulle in die volksmond sê. Verder moet jy bereid wees om “pad toe te kom” en jou “muis te wys”.
Of nog beter (of slegter dalk?), om Saterdag-namiddag pligsgetrou om 18:00 die bus na “Vermistenburg” te vat. Hierdie magiese plek, aldus sosiale media, is ‘n plek sonder vaste adres en eksklusief vir verloorders gereserveer. Belangriker: Dit bied ‘n kans aan beide slegte én “mooi” verloorders om hul wonde in vrede te lek en te kan oefen om skeidsregters te vervloek.
Die Weskus se huidige rugbykultuur is die resultaat van langer as ‘n eeu se ywer. Rugby het oor meer as 100 jaar gemeenskapsgodsdiens geword. Dit strook met die uitspraak van ‘n oorsese joernalis dat Suid-Afrikaanse stadions inderwaarheid rugbykatedrale geword het. Selfs die nimlike Casper de Vries stem saam, daarom het hy die rugby-god, “Ruggabush”, in die lewe geroep.
Onlangse navorsing dui daarop dat die eerste amptelike rugbywedstryd in Suid-Afrika waarvan rekord gehou is, in Mei 1862 in Port Elizabeth gespeel is. Dit is gevolg deur ‘n reeks wedstryde op Groenpunt in Kaapstad tussen lede van die koloniale administrasie en Britse soldate wat in die stad gestasioneer was. Andersins word 1873 beskou as die jaar waarin die eerste amptelike reëls vir rugby in Suid-Afrika gepubliseer is. Die “Kaapse Kode”, soos dit bekend gestaan het, het slegs uit 15 reëls bestaan en het hardlooprugby aangemoedig. Danksy die beskikbaarheid van ‘n eenvormige stel reëls, kon meer klubs gestig word.
In die Swartland/Weskus-gebied word Malmesbury gehuldig as die dorp wat die eerste twee rugbyklubs in die streek gestig het. Ná die stigting van Malmesbury (oftewel “Bloues”) en “Never Despair” in 1881 en 1882 onderskeidelik, volg die stigting van Moorreesburg (oftewel die “Tiere” in 1898), en Porterville (1899) binne die eerste dekade.
Teen 1906 vorm die eerste vyf klubs in die wit gemeenskap naamlik Malmesbury, Moorreesburg, Piketberg (c.1899), Hopefield (1891) en Darling (datum onbekend) die Western Circle Rugby Football Union. Dié organisasie se leierskap het bestaan uit dr. Fred Dommisse (voorsitter – Piketberg), T. Greenshield (Moorreesburg), P.J. du Toit (Porterville – visepresident), en J. Vlok (eresekretaris en tesourier – Moorreesburg).
Binne die Saldanhabaai- munisipale gebied kan die vestiging van ‘n rugbykultuur herlei word na die stigting van die Vredenburg-rugbyklub in 1920. Teen 1930 is die Velddrif-rugbyklub tot die groeiende groep gevoeg en vorm hulle saam met die voorgenoemdes en andere later die Boland-rugbyunie in 1939.
Teen 1910 het rugby ook in die bruin gemeenskappe van Piketberg en Saron ‘n vasstrapplek gekry. Met klubs soos Piketberg, Saron, Klipbokke en Mountain Breakers is wedstryde gereeld teen mekaar gespeel.
Teen 1918 is hul geledere aangevul deur die Young Standards-klub van Darling.
Volgens mondelinge oorlewering was daar teen omstreeks 1927 ‘n klub genaamd Hamlets in die Velddrif-gebied. Daarbenewens is die Piketberg Rangers in 1928 gestig. Sewe jaar later, nagenoeg 40 jaar nadat rugby vir die eerste keer in Hopefield gespeel is, is ‘n tweede klub, die Universals-rugbyvoetbalklub, daar gestig.
Danksy die merkwaardige groei in die aantal spelende klubs kon ‘n nuwe rugbybeheerliggaam teen 1936 op die been gebring word. Hierdie organisasie, die destydse Westelike Provinsie Kleurling-rugbyliga, het uit verskeie sub-unies, ingeslote Malmesbury en Distrikte, waaraan die streekklubs behoort, bestaan.
Die bestaan van die WP-liga het verdere klubgroei gestimuleer. In 1938 – kort ná die stigting van Swallows-rugbyvoetbalklub in Moorreesburg – volg die vestiging van die Noord-Westelike Kleurlingrugbyvoetbalunie (Clanwilliam, Klawer, Ebenezer en Lambertsbaai).
Dat rugby hier godsdiens geword het… wie wil stry?



