Trots met hul sertifikaat is (voor van links) Carli Smook, woordvoerder van die Esperia-buurtwag (en sekretaresse van die Vredenburg-GPF), Sheryl Kapot, ondervoorsitter van die Esperia-buurtwag, en Kim Kalsbeek, sekretaresse. Agter staan Freddie Smook, GPF-voorsitter en stigterslid van die buurtwag, en die bestuurslede Mariana Kotze en Jean-Pierre Vorster. Foto: Alida Buckle

Twee van die Weskus se buurtwagte het by die Wes-Kaapse Buurtwag-Uitnemendheidstoekennings verlede Saterdag 24 Januarie erkenning van die Wes-Kaapse Gemeenskapspolisiëringsraad gekry.

Die Yzerfontein-buurtwag (YNHW) is as die beste buurtwag in die provinsie aangewys, terwyl die Esperia-buurtwag (ENHW) van Vredenburg in die derde plek aangewys is.

“Vir ‘n buurtwag wat net vier jaar oud is, is dit ‘n reuse-kompliment,” het kol. Lindie Marx, polisiehoof in Vredenburg, op ‘n gemeenskapspolisiëringsforum-vergadering vandeesweek gesê.

Carli Smook, woordvoerder vir die ENHW, beaam dat dit ‘n ongelooflike eer is om hierdie toekenning namens die buurt te ontvang. “Elke betrokke buurtwaglid dra by tot hierdie sukses. Dit is die toonbeeld van ‘n gemeenskap wat wil, en onder alle omstandighede saamwerk vir ‘n veilige en skoon buurt.”

Wat die Esperia-buurtwag van ander buurtwagte onderskei, is dat hulle nooit stilstaan nie. “Ons groepe word streng beheer sodat die nodige inligting onmiddellik verkry kan word as daar hulp in ons buurt kort. Met ‘n sterk en betrokke bestuurspan aan bewind, hou ons ons gemeenskap aktief betrokke en gemotiveer. Almal werk saam ongeag wat hul omstandighede is.”

Met hul ontstaan vier jaar gelede het buurtwaglede vir twee tot drie nagskofte per week gepatrolleer, maar met die nodige aanmoediging en konstante ondersteuning is dit tans slegs ‘n uur en ‘n half drie keer per maand.

“Ons het ook probleme ervaar met straatmense wat gesteelde supermarktrollies die buurt inbring en dit gebruik om goed te versamel, asbliksakke te verskeur en onnodig rond te dwaal. Die buurtwag het na die omliggende supermarkte gegaan om die probleem aan hulle te verduidelik waarop die supermarkte die buurtwag amptelik as “trollie-herwinnaars” aangewys het. Dit beteken buurtwaglede kan die supermarktrollies afneem en dit aan die winkels terugbesorg.

“Daarom vermy hierdie straatmense ons buurt en het diefstal, straatrowe en huisbrake basies tot nul gedaal,” vertel Carli.

Sy benadruk ook dat hul sterk verhouding met die Vredenburg-polisie en wetstoepassers geweldig baie help om sukses te behaal en vinnig in noodsituasies te reageer.

Esperia-buurtwag doen nie net nagpatrollies nie, maar ook dagpatrollies en dromdagpatrollies. Hulle het ook ‘n reaksiespan wat spesifiek opgelei word om moeilike situasies te hanteer. Hul WhatsApp-groepe word streng gemonitor en uitsluitlik gebruik ten opsigte van die buurt se veiligheid.

Hul doelwit vir vanjaar is om nog nuwe lede te kry en die jeug meer betrokke te maak by die veiligheid van hul omgewing. “Ons wil bitter graag elke huishouding van die Esperia-buurt as lid van die buurtwag inskryf sodat hulle betrokke kan raak.”

Koos Liebenberg, voorsitter van die Yzerfontein-buurtwag, het die toekenning en sertifikaat namens die organisasie ontvang en beklemtoon dat die prestasie te danke is aan harde werk, samewerking en opoffering van hul lede, uitvoerende komitee en operasionele spanne wat ure op patrollie spandeer.

Hy het ook die steun van die Yzerfontein-gemeenskap en verskeie vennootorganisasies soos die Yzerfontein- inwonersvereniging en die bewarea, en Darling Rural Protection, erken. Die Wes-Kaapse Gemeenskapspolisiëringsraad gee jaarliks die toekennings en meen dié erkenning versterk nie net buurtwagte se reputasie nie, maar motiveer ook ander buurtwagte om standaarde van uitnemendheid te handhaaf.

Regs: Die sertifikaat van verdienste wat aan die Esperia-buurtwag oorhandig is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article