Die Saldanha-polisie waarsku inwoners om op hul hoede te wees wanneer hulle op hul selfone besig is nadat verskeie rooftogte Saterdag weer in die dorp voorgekom het.
In die eerste voorval, om 02:17 by die Tabakbaai-stortingsterrein, was ’n veiligheidswag aan diens toe drie onbekende mans haar nader. Die mans het haar met ’n mes gedreig en haar selfoon en ’n handradio gebuit.
Later die oggend, om 10:20, is werkers van Cartol in Trichardtstraat beroof. Die drie werkers was glo by ’n werksvoertuig besig om handel te dryf toe ’n man hulle nader. Die man en sy makkers, wat hulle eers as klante voorgedoen het, het ’n vuurwapen uitgepluk en die werkers van geld beroof. Die drie is in die werksvoertuig gedruk waarna die rowers gevlug het.
Die middag om 13:30 is ’n 15-jarige seun in dieselfde gebied naby Shoprite van sy selfoon beroof. Hy was op pad huis toe en op sy foon besig toe hy van agter oorval is. Die selfoon is uit sy hand geruk, waarna die rower die hasepad gekies het.
Later die middag het ’n 42-jarige vrou ’n soortgelyke voorval beleef toe sy langs die strand in Saldanhaweg met haar selfoon gesit het. ’n Man het van agter af gekom, die foon gegryp en weggehardloop.
Die polisie maan inwoners om nie ’n geleentheid vir misdaad te skep deur openlik met hul selfone in die hand te loop nie. Wees bewus van wat om jou aangaan en probeer om nie alleen in stil gebiede te beweeg nie, sê die polisie.


