“Dis dikwels mense wat alleen stap wat beroof word,” waarsku AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie.

“Dit is ongelukkig ’n werklikheid waarvan ons nie kan wegskram nie. Dit is nie meer veilig om alleen te stap nie – veral nie in die donker nie,” waarsku sy.

Verskeie voetgangers is tussen 19 en 22 Augustus deur opportunistiese boosdoeners in Saldanha van hul persoonlike besittings beroof.

Volgens Kotze het ’n tienerseun (13) Vrydagaand vroeg van die winkel af huis toe gestap toe hy verby twee mans by ’n vullisdrom beweeg het.

Die mans het die seun glo gevra vir ’n sigaret, en toe hy sê hy rook nie, het hulle vir kleingeld gevra. Hy het gesê hy het nie geld om vir hulle te gee nie, waarna die twee messe uitgeruk en die seun daarmee gedreig het. Die rowers het ’n bedrag geld van die seun gevat en gevlug. Volgens Kotze het die seun egter dadelik die voorval by sy gesin aangemeld en die polisie is gekontak. Een van die twee rowers is in hegtenis geneem en het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

In ’n tweede voorval, wat Sondagoggend 21 Augustus voorgekom het, is ’n man (28) wat in Tonynstraat gestap het van sy geld beroof toe hy deur twee mans vasgegryp is.

’n Vroulike voetganger (29) was Maandag (22 Augustus) om 05:50 onderweg na ’n winkel toe sy op die hoek van Vraagom- en Oesterstraat deur twee mans met ’n vuurwapen van haar rugsak en selfoon beroof is.

Kotze doen ’n ernstige beroep op inwoners om liefs in ’n groep na hul bestemmings te stap en nie groot bedrae geld of waardevolle items saam met hulle te dra nie.

Sy weet dis nie altyd moontlik om dit te vermy om in die nag iewers heen te stap nie, maar sy beveel aan dat dit tot die noodsaaklike beperk moet word.

“As jy saans of soggens vroeg moet stap, kies dan goed beligte roetes as dit beskikbaar is.” Sy sê ook ’n doelgerigte stapper wat bewus is van wat om hom of haar aangaan, se risiko om beroof te word, is kleiner as dié wat met oorfone loop of wie se aandag deur ’n selfoon afgetrek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article