Dit is elke Suid-Afrikaner se reg om sy stem dik te maak teen dit wat hy voel verkeerd is. Mense het ook die reg om veilig in hul onmiddellike omgewing te wees.
Net soos die betogers op Darling gister die reg gehad het om vir hul saak die strate in te vaar, het die res van die dorp die reg op veiligheid gehad. Om egter ’n dorp tot stilstand te bring en inwoners in hul huise in te perk, is ’n skending van hul regte.
Hoekom die paaie brand?
Hoekom die winkels plunder?
Hoekom die nooddienste met klippe bestook?
Hoe help dié geweld enigsins jou saak?
Inwoners kon nie werk of skool toe gaan nie. Hulle kon nie eens ’n brood by hul kruidenierswinkel gaan koop nie. Dit kan tog nie help om jou buurmense se lewe só te ontwrig nie.
Hulpbronne wat kon gaan om jou lewe te verbeter – huise, beter dienste, ekonomiese ontwikkeling – moet nou gebruik word om die pad te herstel wat beskadig is en die winkel wat help om die plaaslike ekonomie aan die gang te hou, wat sy deure moes sluit.
Ons moenie stilbly teen dit wat verkeerd is nie, maar om af te breek is sekerlik nie die manier om jou boodskap oor te dra nie.
Gebruik jou regte, maar onthou jou verantwoordelikheid teenoor jou medemens.


