Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, maan die publiek – veral bejaarde vroue – om uiters versigtig te wees as hulle hul voertuie nader om in te klim. ’n MoorreesburGSE vrou van 85 se selfoon ter waarde van R15 000 is op Donderdag 1 Junie gesteel toe sy om 15:40 in haar voertuig wou klim. Vier verdagtes het haar genader. Drie het haar aandag afgetrek terwyl die vierde een die selfoon uit haar motor gesteel het.
Die Lutzville-polisie het ’n 33-jarige gewoontemisdadiger verlede Donderdag (1 Junie) agternagesit, waarop hy in die Olifantsrivier gespring en verdrink het. Sy lyk is Saterdag eers gevind.
Die Vredenburg-polisie het ’n 44-jarige vrou aangekeer nadat sy ’n beskermingsbevel teen haar verontagsaam en haar 66-jarige pa gevloek het. Haar pa het die beskermingsbevel teen sy dogter uitgeneem.
In ’n soortgelyke voorval is ’n 22-jarige man Sondag 4 Junie in ’n rolstoel in Hopefield aangekla nadat hy sy stiefpa gevloek en op sy gewrig gesny het. Die man het aangedring op geld wat nóg sy ma nóg sy stiefpa vir hom wou gee. Hy is gewaarsku om Dinsdag 6 Junie in die hof te verskyn.



