Die Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM) het onlangs sy begroting vir die 2025/2026 finansiële jaar ter tafel gelê, ten spyte van aanhoudende ekonomiese uitdagings en beperkings op plaaslike regeringsvlak.
David Joubert, munisipale bestuurder, het tydens die begrotingsvergadering die finansiële departement onder leiding van dr. Johan Tesselaar, geloof vir uitmuntende werk om ” ‘n realistiese en volhoubare begroting” op te stel.
Raadsheer Boffie Strydom, uitvoerende burgemeester, het tydens sy toespraak verwys na die unieke finansiële uitdagings wat distriksmunisipaliteite in die gesig staar, insluitend die afwesigheid van ’n eie inkomstestroom en verskeie ongefinansierde mandate. Tog het hy sy vertroue uitgespreek in die begroting se vermoë om die munisipaliteit se kernprioriteite en diensverpligtinge na te kom.
“Die WDM se volgehoue sukses word ook weerspieël in hul veertiende opeenvolgende skoon ouditverslag – ’n bewys van behoorlike finansiële bestuur en nakoming van regulatoriese voorskrifte.”
Die WDM het onder andere ’n nuwe streekstortingsterrein in die Matzikama-area voltooi en bestuur die enigste waterkonsessie op distriksvlak in Suid-Afrika namens plaaslike munisipaliteite.
Die WDM is boonop een van slegs twee distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap wat deur die provinsiale regering gekies is om ’n nuwe diensleweringmodel vir padkonstruksie en -onderhoud te toets – “’n verdere bevestiging van WDM se rol as toonaangewende padagentskap”.
Begrotingsoorsig vir 2025/2026:
• Bedryfsuitgawes: R609,03 miljoen
• Totale Inkomste: R609,57 miljoen
• Begrote Surplus: R537 020
Kapitaalprojekte sluit in:
• Grootmaatwatervoorsiening: R3 miljoen
• WDM-infrastruktuurontwikkeling: R12,34 miljoen
“Speaker, ek wil alle raadslede bedank vir hul samewerking tydens die opstel van hierdie begroting,” het Strydom afgesluit. “U kan verseker wees dat ek as uitvoerende burgemeester my volle samewerking sal gee om volhoubare en verbeterde dienslewering aan al ons gemeenskappe in die Weskus te verseker.” Foto: Burgemeester Boffie Strydom hou die begroting van WDM aan die Uitvoerende Raad van die munisipaliteit voor.
Want to comment on posts, engage with fellow readers, and submit stories, letters, feedback and more?





