Die woorde “die gemeenskap” word so baie keer gebruik om vaagweg na sekere dele of groeperinge in die Weskus te verwys.
As ‘n wyksraadslid dit gebruik, verwys dit dikwels na ‘n woonbuurt se mense. As staatsdepartemente daarna verwys, hang dit van die konteks van die opmerking af.
“Gemeenskap” as selfstandige naamwoord verwys eerstens na ‘n groep mense wat op dieselfde plek woon. As in ‘n politieke konteks, of met verwysing na ontwikkeling van “voordele inhou” vir “die gemeenskap” gepraat word, moet ‘n mens altyd wonder wie dié spesifieke gemeenskap dan nou is?
Sluit dit alle inwoners van ‘n gebied in wie se tieners en jongmense sal kan baat by opleiding in ‘n sekere bedryf? Of is daar ander kriteria om te besluit wie deel is van “die gemeenskap” of wie nie? In baie gevalle trek net ‘n sekere deel van “die gemeenskap” voordeel uit staatsinisiatiewe en projekte.
‘n Gemeenskap kan ook bestaan uit mense wat almal dieselfde belangstellings het of aan dieselfde sportsoort deelneem, soos die rugby- of die motor- fietsgemeenskap.
Wanneer gaan ons dan één gemeenskap word? As gepraat word van die Saldanha-gemeenskap of die Velddrif-gemeenskap, gaan dit beteken dat dit almal insluit?
Anders bly “die gemeenskap” net ‘n diplomatiese manier om mense steeds te verdeel.




