`n 64-Jarige vrou van Langebaan het verwoed terug baklei toe `n rower Saterdagoggend met `n pistool by haar kar ingeklim het.
Marie van der Merwe was onderweg na Kaapstad toe haar kar ontklaar geraak het op die N1 hoofweg tussen die Canal Walk- en Maitland-afritte.
Dit was om en by 10:00 toe sy die wit rook by haar motor se uitlaatpyp sien uitborrel het, en in die noodbaan afgetrek het.
“Die baan was egter so smal ek kon nie die deur oop maak of waag om uit te klim soos die karre verby gejaag het nie,” vertel sy aan TygerBurger.
“Ek haal toe my foon uit en begin soek na my versekering se noodnommer toe ek die volgende oomblik `n getik aan die passasiersvenster hoor.
“Toe ek opkyk staan `n man daar met ‘n pistool teen die venster gedruk. Ek het die kar aangeskakel en probeer wegtrek maar hy was te vinning en het die deur oopgeruk, langs my in die kar geval en die handbriek hard opgetrek.
Met die pistool op haar gerig, het die rower Van der Merwe beveel om haar foon te oorhandig wat sy op die stadium styf tussen haar bene vasgeknyp het.
“Ek weet nie wat my besiel het nie, maar toe hy oorleun om my foon te gryp, byt ek hom baie hard aan sy arm, reg deur sy baadjie” sê sy. “Hy raak toe aggresief en stoei my foon by my af, spring uit en vlug die veld in.” Haar bank kaarte, ID en bestuurslisensie was in haar selfoon se sakkie.”
Niemand stop om te help nie
Steeds in skok was dit vir haar die heel ergste dat niemand gestop het om haar te help nie.
“Ek was vrou-alleen en die pad was baie besig. Iemand moes tog iets gesien het,” sê sy. “Ek kon nie die handrem afkry om verder te ry nie, en moes my hand by die venster uitswaai om iemand se aandag te trek.”
`n Goeie Samaritaan het uiteindelik agter haar stil gehou en haar tot hulp gesnel.
“Hy het my seun gebel, en agter my tot by die Maitland polisiekantoor gery waar ek `n saak geopen het.”
Van der Merwe beskryf die ervaring as `n namerrie.
“Ek is dalk 64, maar ek is nie `n bangbroek nie. Tog was dit baie skrikwekkend en traumaties. Ek sien nou nog die man se gesig voor my.”
Sy sê sy is verstom dat so iets helder oordag kon gebeur op so `n besige pad in Kaapstad.
“Motoriste moet tog baie versigtig wees, mens is nêrens meer veilig nie,” waarsku sy.
Ruth Solomons, woordvoerder van die Stad Kaapstad se metropolisie sê die Stad is bewus van motoriste en fietsryers wat verder af in die hoofweg by die Laer Kerk-afrit beroof is.
“Daar is gereelde patrollies in daardie omgewing wat deur die metropolisie, verkeer en wetstoepassing uitgevoer word sedert die laaste voorval,” sê sy.
Daarbenewens versoek sy motoriste om te alle tye waaksaam te bly.
“Indien u weens `n noodgeval gedwing word om langs enige pad te stop, hou ten alle tye jou deure gesluit en vensters toe en wag todat hulp opdaag.
Skakel dadelik die nooddienste. Bly binne jou voertuig, hou jou deure gesluit, vensters toe en wag totdat hulp opdaag. Wees altyd bewus van jou omgewing en maak seker dat jy jouself teen identiteitsdiefstal beskerm deur nie dokumente met persoonlike inligting soos ID-kaarte, paspoorte, bankrekeningstate in jou voertuig rond te laat nie, indien jy om veiligheidsredes moet uitklim en wegbeweeg van jou voertuig.”
Motoriste kan alle voorvalle by die Stad se Openbare Noodkommunikasiesentrum aanmeld deur 021 480 7700 vanaf `n selfoon of 107 vanaf `n landlyn te skakel.
Sers. Wesley Twigg, woordvoerder by die polisie se provinsiale mediasentrum, sê die saak word ondersoek.




