Die eerste vergadering van die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum vir 2026 was kookwater, met al die betrokkenes wat hart oopgemaak het oor misdaadverwante probleme in hul buurte.

Volgens Joey Pieters, die Saldanhabaai-veiligheidsinisiatief se koördineerder, het die pas afgelope feestyd (15 Desember tot 15 Januarie) benewens ‘n tref-en-trap-ongeluk in Langebaan net een ander noodlottige motorongeluk gebeur.

Kol. Lindie Marx, die polisiehoof in Vredenburg, het in haar verslag die misdaadsyfers van die afgelope feestyd met dié van die vorige jaar vergelyk.

Misdade soos aanrandings, geweldadige rooftogte, huisbrake, veediefstal, dronkbestuur en diefstal uit motorvoertuie was meer as die vorige jare dieselfde tyd. Diefstal uit motorvoertuie is veral in Witteklip, George Kerridge en Ongegund tussen 18:00 en 21:00 ‘n al groterwordende probleem.

Diefstal het ook toegeneem, waarvan die meeste, volgens Marx, eintlik winkeldiefstalle was, maar wanneer die oortreder buite op straat in hegtenis geneem word, word ‘n saak van diefstal geregistreer.

Freddie Smook, die voorsitter van die GPF, het benadruk dat die buurtwagte van Vredenburg gedurende die feestyd tot 39 inhegtenisnemings in hul omgewing bygedra het.

Pieters het ook genoem dat beamptes van die afdeling wetstoepassing in die hele Saldanhabaai- munisipale gebied oor die feestyd sowat 753 boetes uitgeskryf het. Hy het ook gesê veldbrande het geweldig toegeneem – veral in die Vredenburg-omgewing.

Volgens beskikbare inligting, het amper 30 200 mense die strande gedurende die feestyd besoek.

Verskeie rolspelers het ook die groeiende probleem van onwettige immigrante in die Weskus genoem. Die GPF is besig met ‘n volskaalse ondersoek in dié verband.

Suksesvolle motorstoppe en teenmisdaad-optredes was net moontlik met absolute samewerking tussen al die rolspelers in die gebied, het Pieters gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article