Die bestuur van die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum is voor (van links) Jean Retief (programbestuurder), Sammy Springleer, Valya Adams (bemarking), Clive Siebrits (tesourier), Abba Smith (ondervoorsitter) en Freddie Smook (voorsitter). Agter staan kol. Roland Leibrandt van die Vredenburg-polisie, bykomende lede Denzil Holloway, Felicia Solomons en Carli Smook (sekretaresse). Foto: Alida Buckle

Alida Buckle

Die Vredenburg-polisiëringsforum (GPF), wat uit al die buurtwagte in die dorp bestaan, het onlangs sy nuwe bestuur gekies.

Die teenwoordiges het Freddie Smook eenparig as voorsitter verkies en net so vir Abba Smith as ondervoorsitter.

Smook het in ‘n terugskouing oor die jaar benadruk dat die massaritte waaraan die GPF, buurtwagte en veiligheidsmaatskappye saam met die polisie deur die jaar deelgeneem het, goeie suksesse gelewer het.

Hy het ook verwys na die suksesvolle padblokkades oor Paasnaweek en die verskeie imbizo’s wat in Witteklip, George Kerridge en Paternoster gehou is.

Op ‘n vroeër teenmisdaadsvergadering is aangedui dat die grootste voorkoms van misdaad in Vredenbrug in George Kerridge, Witteklip en Louwville is.

As al die buurtwagte, wat nog besig is om amptelik te registreer, uiteindelik amptelik lede van die GPF word, sal daar nie ‘n buurt in Vredenburg oor wees wat nie ‘n buurtwag het nie, het Smook aangedui.

Een van die grootste projekte wat die GPF vanjaar aangepak het, was die opknapping van die ou stasiegebou in ‘n veiligheidshub vir die dorp.

Die GPF beoog om hom in die volgende jaar toe te spits om met die Search & Rescue-span hande te vat. Die soek-en-reddingspan lewer vrywillige, onbaatsugtige diens met skamele hulpbronne.

Smook het ook gesê hulle wil kyk om vrywilligers te kry om ‘n Stapbus (Walk to School Bus) aan die gang kry sodat kinders veilig skool toe kan stap.

Kol. Roland Leibrandt het in sy te- rugvoer oor die misdaadsituasie in die dorp gesê kontakmisdaad bly hoog, met huis- en sakerooftogte sowel as bendegeweld wat toeneem.

Hy het verduidelik hoe die digbeboude dele in buurte soos George Kerridge polisiëring bemoeilk, want daar is skaars straatname en huisnommers.

“Huise is gebou op plekke waar geen huise gebou moes gewees het nie,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article