Die ontdekking vroeër vanjaar van menslike beendere op ‘n bouperseel in Sonkwasstraat, Paternoster, het groot opskudding in die gemeenskap veroorsaak. Video’s op sosiale media beweer sedert- dien dat dit die oorskot van plaaslike Khoisan-voorsate is.
Dokumentasie, amptelike korrespondensie en argeologiese bevindings toon dat die bouer, Hannes Kleynhans, sowel as die owerhede volgens die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (NHRA) opgetree het.

Die oorblyfsels is in Julie deur konstruksiewerkers op Erf 1470 ontdek tydens uitgrawings vir ‘n swembad. Hulle het eers gedink dit is ‘n skilpaddop, maar toe hulle besef dit is ‘n skedel, het hulle Kleynhans laat weet. Hy het die voorval dadelik by die polisie aangemeld en die terrein is afgesper om nuuskieriges uit te hou.
Foto’s en video’s is ook aan die polisie gestuur, waarna die polisie, onder leiding van kapt. Jaco Kruger en die forensiese span van die Kaap, die perseel beoordeel het. Hoewel ongekontroleerde toegang ná werksure wel moontlik was, beklemtoon Kleynhans dat geen beendere ooit goeds- moeds verwyder of verskuif is nie, in teenstelling met bewerings op sosiale media.
Polisielede het hierna die perseel deur die nag bewaak.
Die volgende dag het ‘n span van Erfenis Wes-Kaap (HWC) die terrein besoek. Die besluit is geneem om alle bouwerk aan die agterste, afgebakende deel van die erf te staak.

Op 31 Julie vanjaar het HWC ‘n formele staakwerkbevel uitgereik. Geen grondversteuring mag op die afgebakende deel plaasgevind het nie, en dit is tot ‘n streng geentoegangsone verklaar.
HWC het bevestig dat ‘n Artikel 36-ontginningspermit dringend aangevra moes word en dat oortreding strafregtelike gevolge kon inhou. HWC het ook bevestig dat die aansoek as ‘n noodsaaklike geval hanteer is, wat die gewone 60-dae- openbare deelnameproses oorgeslaan het.
In ‘n e-pos van 12 Augustus 2025 bevestig HWC dat die opgegrawe (ex situ) beendere in polisiebewaring gehou word totdat die grondeienaar ‘n argeoloog aangestel het.
‘n Argeoloog, dr. Jayson Orton van ASHA Consulting, is intussen aangestel. Met sy ondersoek het hy ‘n skulp-lens net bo die begrawingsvlak geïdentifiseer. Dié skulplens het ‘n klein kwartssplinter, ‘n rivierklip en ‘n gefossileerde perlemoen- slakdop bevat. Hy het aanbeveel dat ‘n monstersnit geneem word om die konteks van die begrawing te bepaal, aangesien die skulplens moontlik datering en kulturele inligting kan verskaf.
Volgens die argeologiese aantekeninge bestaan die ex-situ-oorblyfsels uit die volgende identifiseerbare skeletdele – die skedel (voorkop, linkerkant, regterkant en die agterkant); die dybeen (femur); die skeenbeen (tibia); die boarmbeen (humerus); die elmboogbeen (ulna); en twee gebreekte ribbes. Die beendere het volgens Orton se aantekeninge nie in hul oorspronklike anatomiese orde bo die grond rondgelê nie; dit is fragmente wat onder streng dokumentasie versamel is. Orton het volgens Kleynhans self die beendere en ander monsters verwyder.
HWC reik op 18 Augustus ‘n noodpermit uit vir die neem van monsters van die plek wat met konstruksie opgegrawe is.
Die permit het beperkte, gereguleerde bouwerk toegelaat mits alle moontlike menslike beendere waarop afgekom is, professioneel gedokumenteer en in goedgekeurde houers geplaas is.
Nadat al die voorskrifte nagekom is, sê Kleynhans, het hulle op 19 Augustus ‘n kennisgewing van HWC gekry dat hulle met bouwerk op die perseel mag voortgaan. Hy beaam dat sy werkers enigiets wat soos ‘n menslike been lyk, aan die owerhede deurgegee het.
“Ek kan met ‘n rein gewete sê dat geen beendere gekry of ‘weggedra’ is nie.”
Hoewel ‘n groep gemeenskapslede beweer dat dit beendere van hul voorsate is, bestaan nog geen antropologiese, forensiese of argeologiese verslag wat dit bevestig nie. Die NHRA vereis dat slegs erkende deskundiges die herkoms, ouderdom en kulturele konteks van enige menslike oorskot mag bepaal.
Die bouprojek het voortgegaan en is onder streng professionele argeologiese toesig en slegs op aangewese dele voltooi.
‘n Finale verslag wat Orton teen 18 September 2028 moet indien, sal die ouderdom van die oorblyfsels bevestig, die kulturele en historiese konteks bepaal, vasstel of enige verband met hedendaagse gemeenskappe bestaan, en die manier van herbegrawing bepaal.
Die dokumentasie en argeologiese bevindings in Weslander se besit toon dat die terrein volgens die wet beveilig is, die beendere onder polisie- en argeologiese beheer gebly het en dat alle moontlike stappe regtens en prosedureel korrek gevolg is.
Die betrokkenes by die video’s op sosiale media het nie teen druktyd dokumente wat hul beweringe staaf, aan Weslander verskaf nie. Hulle het wel aangedui dat hulle besig is om omvattende inligting in te samel.
Dit bly ‘n sensitiewe aangeleentheid.






You must be logged in to post a comment.