Keamogetswe Khunofu (29) by die Vredenburg-landdroshof. Foto: Alida Buckle

“As jy nie vandag vir die familie om verskoning gevra het nie, het ek jou tronk toe gestuur.”

Só het landdros Alfred Isaacs die afgelope Vrydag (8 Augustus) aan Keamogetswe Khunofu (29), ‘n junior vlootoffisier van Simonstad, gesê.

Isaacs het Khunofo skuldig bevind aan strafbare manslag omdat hy op 9 November 2021 Michelle de Clerck (37) voor die OK Minimark in Saldanha se hoofstraat doodgery het.

Michelle de Clerck en haar ma, Elmarie.

Khunofo was op daardie tydstip nog ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch se krygskunde-fakulteit by die SAS Saldanha-vlootbasis, en is ten spyte van die gebeure steeds toegelaat om twee maande later as junior offisier te gradueer.

Hy en ‘n medestudent het op die noodlottige dag in twee voertuie teen mekaar in Saldanha se hoofstraat gejaag. Verskeie ooggetuies het deur die loop van die hofsaak getuig dat hulle die jaagtog gesien het.

Beurtkrag het dié dag aangebreek en Michelle het vleis en brood by die winkel gaan koop vir ‘n braai. Sy het reeds ‘n drankie gedrink, maar het vir vriende nog normaal gereageer.

In ‘n betreurenswaardige sameloop van omstandighede het sy die pad oorgesteek dieselfde tyd wat die twee studente se jaagtog haar bereik het.

“Ek het net ‘n slag gehoor, gedink ek het die rand van die sypaadjie raakgekry en remme aangeslaan,” het Khunofu verduidelik.

Hy het sy swygreg gedurende die hofsaak gebruik, maar het ná sy skuldigbevinding besluit om ter strafversagting te getuig.

De Clerck is sowat 66 m, volgens forensiese getuienis, saam met die motor gesleep voordat dit tot stilstand gekom het. In die proses is haar regterbeen gedeeltelik afgeruk.

Khunofu het nie van die toneel af weggejaag nie.

Die passasier wat saam met Khunofu in die motor was, kon egter nog nooit opgespoor word nie. Isaacs het gesê dis jammer dat Khunofu, as ‘n lid van die Suid-Afrikaanse vloot, nie met die hof saamgewerk het sodat dié getuie opgespoor kon word nie. Die medestudent wat in ‘n ander voertuig teen Khunofu gejaag het, het glo dié passasier van die toneel verwyder.

Isaacs het in sy uitspraak ook klem geplaas op stawende getuienis soos die polisie én ander getuies wat Khunofu agter die stuur van die Volkswagen Polo gesien sit het.

Khunofu, wat skuld ontken het, het eerstens beweer die motor is nie syne nie, maar Vrydag aan die hof erken dit is. Hy het ook probeer maak asof hy nie bestuur het nie, maar die staatsaanklaer Devin Cloete het dit weerlê.

Isaacs het ‘n parallel getrek met beide Khunofu én Michelle wat matig onder die invloed van alkohol was, maar volgens verskillende ooggetuies het albei steeds normaal opgetree.

Isaacs het wel daarna verwys dat Khunofu se bloekalkolvlak eers drie uur ná die ongeluk geneem is omdat ‘n polisiebeampte op die toneel besluit het hy lyk nugter.

Die feit dat Khunofu nie tydens die verloop van die hofsaak getuig het nie, het volgens Isaacs die Staat se saak in isolasie geplaas as die enigste getuienis.

Die landdros het dit aan die De Clerck- familie oorgelaat om te kies of Khunofu gevonnis word tot twee jaar tronkstraf opgeskort vir vyf jaar, en of hy ‘n tydperk van korrektiewe toesig kry.

Hulle het korrektiewe toesig gekies omdat ‘n opgeskorte vonnis net ‘n raps oor die vingers sou wees en Khunofu dus verder met sy lewe sou kon voortgaan asof niks gebeur het nie.

Isaacs het hom ná die skuldigbevinding ook aangespoor om die familie om verskoning te vra, wat hy wel gedoen het. “Dit was ‘n traumatiese gebeurtenis – nie net vir haar familie nie, maar vir my ook. Ek het nooit gedink dat ek myself in só ‘n situasie sou bevind nie.”

Michelle se ouers, André en Elmarie de Clerck, bekendes in perdekringe in die Weskus en Wes-Kaap, was erg emosioneel tydens die uitspraak. Hulle is bygestaan deur hul dogters, Annelle Traut (34) en Chantelle le Roux (43), De Clerck se oudste suster van Middelburg, Mpumalanga.

Die gesin sal nooit oor Michelle se dood kom nie, maar berus hulle by Isaacs se besluit.

Volgens Khunofu help hy sy tweejarige dogter onderhou asook sy 49-jarige ma en 20-jarige broer.

Die saak is uitgestel tot Vrydag 22 Augustus om Khunofu, wat in weermagkwartiere in Simonstad bly, se adres na te gaan. Hy het vir die hof gesê hy woon in Tokai.

Isaacs sal dan besluit hoe lank Khunofu onder korrektiewe toesig sal bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article