“Ek het net ‘n slag gehoor, gedink ek het die rand van die sypaadjie raakgekry en remme aangeslaan.”
Só het Keamogetswe Khunofu (29), ‘n junior vlootoffisier van Simonstad, op Vrydag 8 Augustus gedurende die aanhoor van redes tot strafversagting getuig.
Landdros Alfred Isaacs het Keamogetswe Khunofu (29) minute vantevore in die Vredenburg-streekhof skuldig bevind op aanklag van strafbare mansslag.
Khunofu het Michelle de Clerck (37) op 9 November 2021 voor die OK Minimark in Saldanha se hoofstraat doodgery. Michelle het vleis en brood by die winkel gaan koop omdat hulle weens beurtkrag besluit het om te braai.
Isaacs het hom ná die skuldigbevinding aangespoor om die familie om verskoning te vra, wat hy wel gedoen het.
“Dit was ‘n traumatiese gebeurtenis, nie net vir haar familie nie, maar vir my ook. Ek het nooit gedink dat ek myself in só ‘n situasie sou bevind nie.”
Michelle se ouers, André en Elmarie de Clerck, bekendes in perdekringe in die Weskus en Wes-Kaap, was erg emosioneel tydens die uitspraak.
Hulle is bygestaan deur hul dogters, Annelle Traut (34) en Chantelle le Roux (43), De Clerck se oudste suster van Middelburg, Mpumalanga.
Khunofu het nie in die hofsaak getuig nie, maar ter strafversagting verduidelik hoe die ongeluk gebeur het.
Hy het ook gesê hy help ‘n tweejarige dogter onderhoud asook sy 49-jarige ma en 20-jarige broer.
Isaacs het in sy uitspraak klem geplaas op stawende getuienis soos die polisie én ander getuies wat Khunofu agter die stuur van die Volkswagen Polo gesien sit het en ander wat hom met sy hande op sy kop gesien staan het toe hy hoor dat Michelle dood is.
Khunofu, wat twee maande ná Michelle se dood toegelaat is om te gradueer, het aanvanklik erken dat hy bestuur het, maar dit later teruggetrek. Hy het ook met die aanvang van die hofsaak onskuldig gepleit.
Tydens die uitspraak is ook genoem dat Michelle se regterbeen gedeeltelik in die ongeluk afgeruk is. Sy is ‘n ent saam met die kar gesleep voordat dit sowat 66 m van waar dit haar aanvanklik getref het tot stilstand gekom het.
Isaacs het ‘n paralel getrek met beide Khunofu én Michelle se bloedalkoholvlakke wat matige dronkenskap getoon het, maar volgens verskillende ooggetuies het albei steeds normaal opgetree. Isaacs het wel daarna verwys dat Khunofu se bloekalkolvlak eers drie uur ná die ongeluk geneem is.
Verskillende ooggetuies het gesien hoe Khunofu, op daardie tydstip nog ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch se krygskunde-fakulteit by die SAS Saldanha-vlootbasis, en ‘n medestudent in twee voertuie teen mekaar jaag. Hulle het glo voor die ongeluk ná ‘n eksamen, cocktails by ‘n restaurant in Paternoster gaan drink.
Die passasier wat saam met Khunofu in die motor was, kon nog nooit opgespoor word nie. Isaacs het gesê dis jammer dat Khunofu, as ‘n lid van die Suid-Afrikaanse weermagte, nie met die hof saamgewerk het sodat dié getuie opgespoor kon word nie. Dié medestudent wat in ‘n ander voertuig teen Khunofu gejaag het, het glo dié passasier van die toneel verwyder.
Die feit dat Khunofu nie tydens die verloop van die hofsaak getuig het nie, het volgens Isaacs die Staat se saak in isolasie geplaas as die enigste getuienis. “As jy nie vandag vir die familie om verskoning gevra het nie, het ek jou tronk toe gestuur,” het Isaacs gesê.
Die hof is uitgestel tot Vrydag 22 Augustus vir vonnis. Khunofu gaan na verwagting korrektiewe toesig kry.


