Die wrak van die Impala Merk 1 waarin James O’Connell gesterf het.

Toeskouers by Saterdag 22 Maart se Weskus-lugskou se verstomming oor een van Suid-Afrika se bekwaamste vlieëniers se behendige toertjies met ‘n Impala Merk 1-vegvliegtuig het in ‘n oogwink in afgryse verander toe die vliegtuig skielik ná ‘n rolbeweging begin duik en neergestort het.

James O’Connell, ‘n bekende en ervare vlieënier van Bredasdorp, se toertjies vóór die val was asemrowend en het sy behendigheid as vlieënier gewys.

James O’Connell

O’Connell het tot in die laaste sekondes in beheer van die Impala gelyk. Hy is egter op slag dood nadat die Impala by impak agter die vliegtuigskure ontplof het. Geskokte toeskouers het binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde ‘n pikswart wolk en vlamme die lug in sien borrel.

Die Impala Merk 1 word behendig deur James O’Connell onderstebo gevlieg. Foto: Jeffrey Abrahams.

Toeskouers het van skok gegil en sommiges het begin huil. Brian Emmenis, die ervare lugskou-kommentator, het egter koel en kalm gebly en die toeskouers oor die luidspreker aangesê om rustig te wees en om mediese behandeling te kry indien nodig.

Toeskouers kyk in skok na die swart rookwolk agter die vliegtuigskure nadat die Impala Merk-1 vegvliegtuig by die Saldanha-vliegveld neergestort het.

Die lugskou se noodreaksieplan is onmiddellik in werking gestel en noodpersoneel was binne oomblikke op die toneel, waar die gebied beveilig is.

Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue het gesê hulle was binne ‘n minuut nadat die vliegtuig neergestort het, by O’Connell, maar hy was reeds dood. O’Connell was die hoofvlieginstrukteur en ‘n toetsvlieënier van die Toetsvliegakademie van Suid-Afrika (TFASA) by die Oudtshoorn-vliegveld en het meer as 36 jaar vliegervaring gehad.

Jean Rossouw, president van TFASA, het in ‘n verklaring gesê O’Connell se uitgebreide agtergrond in eksperimentele vlugtoetse en sy toewyding aan die bevordering van lugvaartstandaarde het van hom ‘n aanwins vir die TFASA en ‘n gevierde figuur in Suid-Afrikaanse lugvaart gemaak. Op verskeie video’s van die ongeluk kan gesien word dat die Impala se landingswiele neergelaat is tydens die laaste omgekeerde linkerrol, oftewel ‘n dirty roll, soos dit in lugvaart bekend staan. Dit beteken die landingswiele was opsetlik uit. Volgens Emmenis is daar geen aanduiding dat O’Connell probeer het om die uitskietstoel te gebruik nie. Mense wat hom ken, vermoed hy het eerder probeer om die historiese vliegtuig te red.

Impala-vegvliegtuie, waarvan die laaste in 1975 gemaak is, is bekend vir verrigting, betroubaarheid, aanpasbaarheid en dinamiese vermoë in die lug.

Luidens ‘n verklaring van die Weskus-lugskou se organiseerders het dié geliefde “oorlogsvoël” ‘n diep historiese betekenis vir baie Suid-Afrikaners en is dit ‘n gunsteling by lugskoue, veral omdat die Impala vir baie jare nie meer by lugskoue optree nie. Wat presies fout gegaan het en veroorsaak het dat die Impala hoogte verloor en neergestort het, sal in ‘n ondersoek uitgepluis word.

Sisa Majola van die Burgerlugvaartowerheid (Sacaa) het gesê hulle werk saam met en Air Show South Africa (Assa) en die veiligheidsbeamptes by die lugskou om inligting oor die ongeluk in te samel. Die lugskou, wat gewoonlik in September of Oktober gehou word, is juis vanjaar na Maart verskuif in die hoop op beter weersomstandighede. Die wind was gewoonlik later die jaar ‘n probleem.

Die lugskouorganiseerders het vooraf gesê O’Connell se teenwoordigheid by die lugskou beteken “ ’n ongeëwenaarde vlak vaardigheid, ervaring en passie vir vlug”. Volgens Rossouw het O’Connell ‘n vooraanstaande loopbaan gehad wat oor etlike dekades gestrek het. Hy was 29 jaar lank ‘n offisier in die Suid-Afrikaanse Lugmag waar hy as operasionele helikoptervlieënier en senior toetsvlieënier gedien het.

Hy was ook die hooftoetsvlieënier vir die inwerkingstelling van die A109 LUH-helikopter en vir die opgradering van die Oryx-helikopter. As gevolg van O’Connell se unieke kundigheid het hy toetse vir die Oryx M2-helikopter in arktiese toestande in Antarktika gelei.

“Hierdie veeleisende rol het presiese kennis en aanpasbaarheid vereis, wat O’Connell se reputasie as ‘n vlieënier met seldsame vaardighede en veerkragtigheid versterk het,” het Rossouw gesê.

As hoofvlieginstrukteur by die TFASA het O’Connell die volgende geslag vlieëniers en toetsingenieurs in vliegtoetswerk opgelei. Benewens sy praktiese kundigheid was O’Connell ‘n gerespekteerde lid van die Suid-Afrikaanse Toetsvlieëniervereniging, die Vereniging van eksperimentele toetsvlieëniers en ‘n genoot van die Lugvaartkundige vereniging van Suid-Afrika.

Rossouw het namens die TFASA sy hartseer oor die tragiese verlies van hul gewaardeerde kollega en vriend bevestig. “Sy nalatenskap sal voortgaan om diegene te inspireer wat in sy voetspore volg.” Hy het ook die TFASA se opregte waardering aan die noodreaksiepersoneel en lugskou-organiseerders uitgespreek vir hul vinnige en professionele optrede. “James se heengaan is ‘n onmeetbare verlies vir die lugvaartgemeenskap en vir ons almal by TFASA. Hy was nie net ‘n merkwaardige vlieënier nie, maar ‘n mentor en ‘n vriend wie se impak nog vir jare gevoel sal word.

“Die lugskou-organiseerders het hul diepe hartseer oor die voorval en hul diepste meegevoel met O’Connell se familie, vriende en lugvaartkollegas uitgespreek. O’Connell se roetine-vertoning was bedoel om die vermoë van die Impala te demonstreer en was ‘n groot oomblik omdat dié vegvliegtuie jare lank nie meer by lugskoue gebruik word nie.”

Majola het gesê verdere besonderhede oor die voorval sal in ‘n verslag vervat word en ná 22 April op die Sacaa se webwerf gepubliseer word.

* In lugvaart verwys ‘n dirty roll na maneuvers met die landingstuig uit, wat gevaarlik kan wees omdat dit beweegbaarheid verminder en weerstand verhoog, wat dit moeilik maak om te beheer. Die neerlating van die landingstuig tydens vlug, veral tydens ‘n daling, kan weerstand verhoog, wat vlieëniers kan help om die vliegtuig se spoed en daaltempo te beheer, veral in sekere weer- of windtoestande. Bron: Federal Aviation Federation.

Die wrak van die Impala Merk 1 waarin James O’Connell gesterf het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article