Die jaarlikse Visfabrieketoernooi beleef vanjaar sy 35ste bestaansjaar en word op Vrydag 24 en Saterdag 25 Oktober op Velddrif aangebied.
Johan Daniëls van Saldanha het in 2017 in ‘n onderhoud met Weslander die opwinding wat die eerste Visfabrieke-toernooi in Oktober 1990 gebring het, herroep (“Oud-rugbykaptein onthou eerste toernooi”, 30 November 2017).
Die toernooi het destyds aanvanklik net vir rugby voorsiening gemaak en met 16 rugbyspanne begin.
Daniëls was toe 30 jaar oud en kaptein van Sea Harvest se rugbyspan – die wenners van daardie eerste toernooi.
Die Sea Harvest-span, onder leiding van Daniëls, was ook die daaropvolgende drie jaar die wenners van die toernooi. Netbal en sokker het ‘n paar jaar later deel van die toernooi geword.
In 1997 het Boland-rugby ingekom en beheer van die rugbytoernooi oorgeneem.
Jacques Basson, die wedstrydsekretaris van die Visfabrieke-sokkertoernooi, sê soos elke jaar gaan duisende viswerkers asook gaste van oor die Wes-Kaap heen die jaarlikse sporthoogtepunt bywoon.
“Ons verwag dat vanjaar een van die beste sokkertoernooie sal wees, en 23 sokkerspanne het hulle reeds ingeskryf. Ons sien uit na sokker uit die boonste rakke.”
Basson meen die jaarlikse visfabrieke-toernooi dien as ‘n goot finansiële inspuiting vir gastehuise en ondernemings in die Bergrivier-omgewing. “Baie van ons spelers word ook deur groter spanne raakgesien, om hul talent ten toon te stel.”
Die toernooi word op die Smit-sportterein in Velddrif beslis.





