Reddingspanne van die Nasionale Seereddingsinstituut jaag gereeld uit om iemand in die water te help. Foto: Enguierrand Photorgraphy | Unsplash

Weskussers word weer eens gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle in die water baljaar, want verskeie mense het die afgelope naweek in die Weskus-polisiedistrik verdrink.

Hoewel dit nie noodwendig van toepassing is op die afgelope naweek se sterftes nie, dra ‘n gebrek aan swemvaardighede, onvoldoende toesig deur volwassenes oor kinders, alkoholgebruik rondom water en onkunde oor gevare soos stroomversnellings in riviere en die see landwyd tot verdrinkings by, sê die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI).

Hoewel die Weskus sporadies seeverdrinkings kry, vind baie voorvalle ook in riviere, damme en selfs swembaddens plaas.

Dit is ‘n erkende feit aan die Weskus dat die meeste vissermanne wat in die diepsee op vistreilers werk, nie werklik kan swem nie.

Die NSRI waarsku ook dat die kombinasie van alkohol en swem ‘n belangrike oorsaak van verdrinking – veral gedurende vakansies – is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het Vaaltyn Boois (36) en ‘n vriend die afgelope Saterdagmiddag (25 Oktober) in die rivier op die Doringdrift-plaas in die Vredendal-omgewing visgevang.

Boois het ‘n tou om sy lyf gehad en was van voorneme om na die oorkant van die wal te swem. Hy het vermoedelik te moeg geraak en verdrink. Die polisie is besig met ‘n nadoodse ondersoek.

Dieselfde middag het Daiva Thicudzwas (22) in St. Helenabaai verdrink. Die omstandighede rakende haar dood word nog ondersoek.

In nog ‘n voorval wou Wandile Myeki (38) Sondag omstreeks 17:55 sy dogter red wat in die water van die Misverstanddam in die moeilikheid geraak het. Hy het ingeduik, maar nie weer opgekom nie. Omstanders het wel sy dogter gered, maar Myeki het verdrink.

Die lyk van die 53-jarige Kateriena Muller is Sondagoggend (26 Oktober) in die Voorsorgdam naby Vredendal gevind. Sy het vermoedelik ook verdrink.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article