“As jy ’n boer aanval, gaan jou gat nie weer die son sien nie.”
Dít het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, op Maandag 9 Maart aan ’n groot groep boere en belangstellendes by die eerste hofverskyning van die drie vermeende aanvallers van ’n geliefde boer van Lambertsbaai gesê.

Hugo Louw (56), ’n boer en gewilde sanger en storieverteller, is op Donderdag 5 Maart wreed deur ’n groep mans langs die Lambertsbaai-pad (R365) naby die Wadrif-plaas aangeval.
Louw wou hulle glo ’n saamrygeleentheid gee, maar het met die opklim van die mans agterop sy bakkie onraad vermoed oor die inhoud van die sakke wat hulle by hulle gehad het. Hy het hulle gevra wat in die sakke was, waarop hulle hom begin aanrand het. In die sakke was glo vleis van ’n geslagte, vermoedelik gesteelde skaap.

Skaapdiefstal in die omgewing het die afgelope tyd geweldig toegeneem.
Ian Turner, bekende sakeman en boer van die omgewing, het aan Weslander gesê Louw het ernstige kopwonde opgedoen. Hy is met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en, terwyl hy probeer keer het, is sy hande met messe gesteek.
Dr. John Hayes, ’n plaaslike dokter, het Louw behandel en bygestaan totdat paramedici opgedaag het. Hy is in ‘n bestendige toestand, maar het ‘n lang herstelpad wat voor hom lê.
Turner beskryf Louw as ’n Sandvelder in murg en been.
Van die plaaslike boere het help spoorsny totdat hulle twee van die vermeende aanvallers opgespoor het waar hulle in die bosse weggekruip het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het Clive Boois (27), Marlon Booysen (24) en Anthony Storm (28), elk met vorige oortredings, in die rondgaande hof op Lambertsbaai verskyn op aanklagte van poging tot moord, diefstal uit ’n motorvoertuig en veediefstal.
Helfrich het bevestig dat die verdagtes bloedbevlekte klere aangehad het waar hulle naby die plek waar ’n geslagte skaap in die bosse versteek is, weggekruip het.
Meyer het tydens sy toespraak van agterop ’n bakkie gesê hoewel die saamtrek ordentlik en beskaafd was, dit ook ’n hartseer en ontstellende gebeurtenis was.
Hy meen dit is nou tyd om saam met die boere ’n boodskap aan die parlement te stuur. “’n Aanval op ’n boer is ’n aanval op die ekonomie van die Wes-Kaap. Wanneer ’n boer aangeval word, word voedselsekuriteit bedreig.”

Volgens Meyer dui statistieke wat hy onder oë gehad het daarop dat 43% van alle werkende mense in die Weskus direk of indirek betrokke is by die landboubedryf. Wanneer ’n boer aangeval word, raak dit sy familie, sy werkers en sy boerdery direk.
Hy het ook verwys daarna dat daar verteenwoordigers van die Weskus-distriksmunisipaliteit teenwoordig was.
Die groep mense het juis die dag saamgetrek om borgtog teen te staan, maar Boois, Booysen en Storm het besluit om hul borgtogaansoek te laat vaar.
Hulle verskyn weer op Maandag 25 Mei in die hof. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.






You must be logged in to post a comment.