WESKUS-DISTRIK – Weskussers kan van Woensdag 4 November al die jongste nuus oor die 2026- plaaslike regeringsverkiesing op een plek volg wanneer NovaNews.co.za (waarvan Weslander deel is), Die Papier en Nuuspod vir die eerste keer hul redaksionele kragte saamsnoer.
Die samewerking bring die drie platforms se nuusdekking saam en bied lesers toegang tot regstreekse uitsendings, nuusdekking van stemlokale oor die land heen en ‘n interaktiewe kaart waarop verkiesingsuitslae per distrik gevolg kan word namate stemme getel word.
Verslaggewers van Novus Media se plaaslike koerante soos Weslander sal by stemlokale en ander belangrike plekke op die Weskus en elders ontplooi word om deur die dag video-opdaterings en nuusberigte te lewer. Nuuspod sal intussen regstreeks oor verkiesingsnuus uitsaai.

Die regstreekse uitsending sal ook op die NovaNews- en Die Papier-webwerwe beskikbaar wees, sodat lesers die dekking op hul voorkeurplatform kan volg.
Bettie Giliomee, die hoof van digitale inhoud en redaksionele opdraggewing by NovaNews, sê dié samewerking bring die verslaggewingskrag van die drie platforms vir die eerste keer bymekaar. “Ons wil verseker dat Suid-Afrikaners toegang het tot tydige en omvattende verkiesingsdekking op die platforms wat hulle reeds vertrou.”
‘n Belangrike deel van die dekking is ‘n interaktiewe verkiesingskaart op die NovaNews-webwerf. Die kaart sal gratis toeganklik wees, sonder ‘n betaalmuur, en sal stemuitslae per distrik vertoon namate die telproses vorder (sien QR-kode hiernaas). Weskussers sal dus die uitslae in hul eie distrikte en dié van ander dele van die land intyds kan volg.
Die samewerking is daarop gemik om verkiesingsinligting toeganklik te maak en kiesers deur middel van regstreekse verslaggewing en digitale hulpmiddels op hoogte te hou.
LEES OOK: VERKIESING 2026 – Weslander gesels met kiesers oor hul redes om te stem en wat hulle verwag





