Morne Herholdt van Velddrif.
Morne Herholdt van Velddrif.

Veldriwwer wen F1-kragbootren by Witbank, Mpumalanga


VELDDRIF – Plaaslike inwoner Morne Herholdt (54) het die afgelope naweek by Witbank, Mpumalanga, koning gekraai deur eerste in die tydtoetse te kwalifiseer, en al drie F1-kragbootwedrenne te wen.

Die prestasie het hom as die algehele wenner van die dag op die Witbank-dam bekroon en sy posisie aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse F1-kragbootkampioenskap versterk. Heroldt meen dit was ‘n ongelooflike dag vir hom en die span.

Herholdt bestuur ‘n gespesialiseerde F1-buiteboordmotorboot met ‘n tonnelromp – spesifiek ‘n Italiaans-vervaardigde DAC-romp. Hy neem deel onder sy nommer #111, en sy span ding mee onder die naam “Velddrif Marine”.

Morne Herholdt in aksie.
Morne Herholdt in aksie.

Volgens hom was die gunstige weerstoestande, deeglike voorbereiding, konsentrasie en spanwerk deurslaggewend vir die sukses.

Herholdt is tans aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse kampioenskap, met net een rondte wat oorbly en die finale rondte vind op Saterdag 14 November by Rynfield in Johannesburg plaas.

“Dit is vir my ‘n groot voorreg en iets waarop ek baie trots is om Velddrif te verteenwoordig. My doelwit is om gefokus te bly en alles te gee om die seisoen as Suid-Afrikaanse kampioen af te sluit,” het hy gesê.

Hy voeg by dat Velddrif soveel het om te bied, en hy sal graag wil sien dat die dorp as ’n bestemming vir ‘n nasionale sportbyeenkoms soos F1-kragbootrenne erken word. “Vir my gaan dit daaroor om ons plaaslike ekonomie te ondersteun, geleenthede vir plaaslike ondernemings te skep, ons pragtige dorp ten toon te stel en ons gemeenskap iets opwindends te gee waarop almal trots kan wees.”

Herholdt hoop ook om in die nuwe seisoen ‘n F1-kragbootrenbyeenkoms na Velddrif te bring om toerisme te bevorder en plaaslike ondernemings te ondersteun.

Sy boodskap aan ander Weskussers is om hul passies te volg, hard te werk en nie bang te wees om hul drome na te streef nie.

LEES OOK: F1 Powerboat Water Festival at St Helena Bay Harbour a resounding success

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 15 October 2026
    Weslander E-Edition – 15 October 2026

Gift this article