Die toeskouers op Velddrif se sportvelde was Saterdag 19 Julie getuies van ‘n rugbyvertoning vol flair, tempo en doeltreffendheid toe die tuisspan die Piketberg Rhinos 64-40 in ‘n Grootuitdaagbeker-wedstryd van die Boland-rugbyunie oorrompel het.

Ná ‘n senuagtige begin aan albei kante het Velddrif ná ‘n kragtige vasteskrum sy momentum gevind. Die bal is vinnig met die agterlyn langs versprei, wat tot Velddrif se eerste drie gelei het. Minder as vier minute later het Velddrif ook sy tweede drie gedruk – ná ‘n losbal-ontginning en ‘n blitsige teenaanval, afgerond langs die pale – vir ‘n 14-0-voorsprong.

Albei spanne het met entoesiasme en balbesit aangeval, maar ongedwonge foute het die momentum belemmer. Die skeidsregter moes ingryp en het die twee kapteins gewaarsku om hul spelers te beheer en op die spelreëls te fokus, met ‘n duidelike boodskap: die volgende oortreding beteken dat jou spel op die veld verby gaan wees.

Dié waarskuwing het orde herstel en Broson-Lee Zog het in die agtste minuut ‘n strafskop oorgestuur, wat die telling na 17-0 geneem het. Kort daarna het Velddrif weer balbesit bemeester ná onkantspel deur Piketberg, en Morne Schaffers het met ‘n slim tikskop en agterspelbeweging gaan druk.

Met Zog se suksesvolle doelskop het Velddrif se voorsprong tot 24-0 uitgebrei.

Schaffers het later sy tweede drie en Velddrif se derde gedruk om dit 31-0 te maak. Die Rhinos het teruggeveg met ‘n goeie drie onder die pale (31-7), maar Velddrif het kort daarna met ‘n agterlyn- aanval geantwoord, wat Schaffers se driekuns verseël het (38-7).

Piketberg se Rieduwaan Boois het met vasberadenheid sy span se tweede drie gedruk (38-14), maar swak dissipline het weer tot ‘n strafdoel deur Zog (41-14)

gelei. Teen rustyd het Velddrif se oorheersing op die telbord met ‘n telling van 45-14 ná nog ‘n agterlyn-gedrewe drie geblink.

Die tweede helfte was ‘n rugbyfees met albei spanne wat die bal laat praat en die toeskouers met hardlooprugby vermaak het. Die Rhinos het nog drie drieë ingeryg, maar Velddrif se agterlyn het drie van hul eie bygevoeg om die eindtelling tot 64-40 te neem en so ook die derbystryd oortuigend te wen.

Ander uitslae:

Paternoster 12-13 Saldanha,

Velddrif 64-40 Piketberg,

Young hearts 52-10 Goedverwacht,

Hopefield 41-49 Vredenburg,

Langebaan 54-12 Steenberg’s Cove.

Derbiedag-toekenings:

Rainbow Powerhouse-speler: Elghin Charlies (Velddrif);

Vuma-konneksie-speler: Bronson-Lee Zog (Velddrif);

Tekkie Town Speler van die wedstryd: Fabio Afrika (Velddrif); en die

Sanlam-Confidence-speler: Morné Schaffers (Velddrif).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article