My gunstelingseisoen is hier – winter! Dis doodreg as jy nie verder wil lees nie, want natuurlik is die teenoorgestelde vir jou waar. Jy soek somer, kuier en iewers op ’n Kaapse strand baljaar. Ek, my liewe mens, is gek na my Kaapse winters, want my oorywerige sweetkliere is glad nie beste maats met jou veertig grade plus nie. Die pasafgelope somer was juis een van daardie brand-jou-dood-ervarings. Ek slaak elke jaar ’n sug van verligting as daai laaste tekens van die somer uiteindelik verby is, want een van die dae kan ek weer kaalvoet in die reën dans en loop!

Skuins voor die aanbreek van winter hierdie jaar het ek in my gees gewaar dat verandering aan my kant nodig is; dat daar letterlik en figuurlik ’n nuwe seisoen vir my besig is om aan te breek. Ek wou eers vasskop en vasklou aan die bekende, maar my binnegoed het al meer, al sterker na verandering gesmag. Daar waar ek my vir bykans vyf volle jare bevind het, het ewe skielik sy towerkrag begin verloor. Let wel – nie op ’n negatiewe wyse nie. Die bekoring van toe het net skielik begin plek maak vir ’n nuwe hoofstuk, ’n nuwe seisoen en ’n nuwe begin. Natuurlik sal ek die hope mooi van die vorige seisoene veilig in my hart bewaar, want glo my, elkeen daarvan was uniek en sal vir altyd ’n spesiale plekkie in my hart kry. Ek is dankbaar dat ek my spore in die vorige seisoene reguit geloop het.

My vorige seisoene is gekenmerk deur brugbou, volhoubare vriendskapsbande is gesmee en slegs mooi herinneringe bly agter. En as die verlange na die Swartland en sy mooi dalk iewers vlak in my gemoed gaan kom vassteek, dan weet ek ek sal altyd daar welkom wees; dat ek weer my rustige stappie deur die pragtige wingerde van Het Vlok Kasteel sal kan neem. Ek sal ook steeds welkom wees om my draai daar by De Hoop se dam te gaan maak. Dit was my gunstelingplekkie, om verskeie redes. Daar kon my siel asemhaal. Daar kon ek vryelik met my Skepper praat, my hart uitstort van blydskap of droefheid en soms bekommernis. Dis egter ook daar waar ek my stille vertroosting gekry het, keer op keer, dat alles op Sy tyd sal uitwerk. Daar by die biesiepolle by De Hoop se dam kon ek keer op keer die wonderwerke ervaar van gebed wat krag dra.

My betekenisvolle verhoudings gesmee in die Swartland sal ook altyd die winkelrakke en gange van die plaaslike supermark in Riebeek-Kasteel insluit. En soos die Kaap van storms woed hier waar ek my tans bevind, kan ek nie anders as om te wonder wat Doesie daar by die supermark se kiosk vandag op haar spyskaart gaan hê nie. Sjoe, ek het darem daardie winkel ryk gemaak – dwarsdeur die pandemietyd en daarna. Ek is seker Doesie sou vandag sop op haar spyskaart gehad het. Haar heerlike varsgebakte vetkoeke sou die sopmaal heerlik afgerond het. Ek wonder ook wat al die ander winkelpersoneel, die bestuurder ingesluit, maak. Dit was maar altyd ’n fees om met almal ’n konneksie te kon maak … al was dit om soms net weer ’n glimlag of ’n skaterlag op iemand se gesig te bring.

My nuwe seisoen het my gebring na my gunstelingplek – die see. My vyf minute se ry van die see af is ’n absolute fees. Daar is ’n nuwe stuk energie wat in myself loskom as ek al om die ander dag my lang ente langs die strand kan aandurf. My voete kan weer een word met die seesand en my siel kan weer asemhaal en die golwe en geskreeu van die seeumeeue met kinderlike opgewondenheid geniet en bewonder. Ek is veral ook bevoorreg om in my nuwe seisoen die liefde en bederf van geliefdes te ervaar. Glo my, dis wat ek ná ’n baie lang tyd opreg waardeer en geniet.

Daar was tye waar ek soveel van myself vir ander moes gee dat ek maar weinig vir myself oorgehad het. Nie dat ek omgegee het nie, maar iewers wil ’n mens ook net die sorge en liefde van iemand anders ervaar. In my geval is dit presies wat ek tans nodig het, hoewel ek terselfdertyd glad nie hierdie omgee en bederf as vanselfsprekend aanvaar nie. Dis slegs genade en ’n bonus. Ek is dankbaar vir dit wat ek in my nuwe seisoen ervaar.

Ek is daarvan bewus dat ook hierdie seisoen iewers tot ’n einde sal kom, maar tot dan, sal ek elke oomblik daarvan geniet, want ek mag maar. Wat die nabye toekoms kan inhou, is ek nie seker van nie. Waarvan ek wel seker is, is dat ek presies is waar ek my tans moet bevind, en dis ’n bevrydende ervaring! My seisoen van nuwe groei, nuwe lewenslesse en nuwe ontdekkings is hier. Ek skroom glad nie om hierdie nuwe werklikheid van myself te omarm nie. Iewers in die verte hoor ek weer die geskreeu van die seeumeeu en ek weet instinktief – alles sal orraait wees!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article