'n Visserman by 'n skuit op Paternoster se strand. Foto: Adrian Venter
‘n Visserman by ‘n skuit op Paternoster se strand. Foto: Adrian Venter

Die onlangse aankondiging deur Willie Aucamp, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE), bring effense verligting vir kleinskaalse vissers.

Aucamp het die appèlle wat deur kleinskaalse visvangkoöperasies in die tradisionele lynvis- en Weskus-kreefsektore vir die 2026/2027-seisoen ingedien is, gehandhaaf.

’n Aantal kleinskaalse vissers en vennote was teenwoordig by ’n media-inligtingsessie waar dié besluit aangekondig is. Aucamp hoop dit sal vertroue in die appèlproses herstel en dui op ’n belangrike stap in die rigting van die versterking van die verhouding tussen kleinskaalse vissersgemeenskappe en die regering.

Vir ongeveer 16 jaar kon kleinskaalse vissers in die tradisionele lynvissektor met 297 vaartuie visvang as deel van die tussentydse verligtingstelsel.

Toe die departement die proses onderneem het om die tussentydse verligtingsvaartuie in die Totale Toelaatbare Poging (TOV) te formaliseer deur die toekenning van kleinskaalse visvangregte, is hierdie 297 vaartuie steeds aan kleinskaalse koöperasies toegeken.

Kleinskaalse vissers lig hul menging. Foto: Adrian Venter
Kleinskaalse vissers is effe trevrede met die minister se aankondiging. Foto: Adrian Venter

Vir die 2026/2027-visvangseisoen is hierdie vaartuie egter nie geakkommodeer nie, wat baie kleinskaalse visvangkoöperasies met aansienlik minder vaartuie gelaat het om mee te werk. Nadat die relevante wetgewing, die wetenskaplike basis vir TOV-beheermaatreëls en die historiese afhanklikheid van kleinskaalse gemeenskappe op die tradisionele lynvisvaartuie hersien is, het Aucamp al 297 standaardvaartuie in die TOV-toekenning vir kleinskaalse vissers vir die 2026/2027-seisoen herstel.

Intussen het die gedelegeerde owerheid vrystellings uitgereik om kleinskaalse vissers toe te laat om voort te gaan met bedrywighede terwyl hulle genoegsaam geleentheid kry om aansoek te doen vir hul nuwe 2026/2027-permitte.

Hilda Adams, voorsitter van die Weskus Kleinskaalse Vissersforum, sê sy is verlig oor die uitkoms van die appèlle.

“Sou dit anders uitgedraai het, sou dit ’n groot krisis gewees het. Baie van ons vissers sou werkloos gewees het, en hulle is 100% afhanklik van die see. Hul passie vir hul lewensbestaan is iets besonders. Ek het soveel respek vir ons vissers. Dit is net jammer dat daar so baie onregtighede intree wat ons raak,” voeg Adams by.

Aucamp beklemtoon dat die uitreiking van hierdie besluite in so ’n kort tydsbestek uitsonderlik van aard is, maar dat dit nie ligtelik opgeneem is nie.

“Ek het al die feite wat ek voor my gehad het, oorweeg en moes verseker dat elke appèl deeglik en wettig verwerk word op ’n wyse wat die departement se verbintenis tot billikheid, verantwoordbaarheid en die volhoubare gebruik van Suid-Afrika se mariene hulpbronne weerspieël.”

Charles Jordaan, voorsitter van die St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum, sê die forum se mening is egter dat die huidige minister besig is om sy geld te plaas waar sy mond is met die herstel van die 297 uitgelate bote.

“Hy kon meer gedoen het. Ek het my mening in ’n e-pos aan hom duidelik gestel dat hy en sy departement besig is om die hond van agter af te nader en nie die grootste probleem direk aanspreek nie.”

Jordaan is ook een van die vele vissers wat hom voortdurend bekommer oor die toekoms van kleinskaalse vissers.

Volgens Adams is die besluit deur die minister ’n klein oorwinning, en sy is hoopvol dat alles spoedig in plek sal val.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article