Twee werknemers van die Moorreesburg-verkeersafdeling is op administratiewe verlof geplaas hangende die uitkoms van ‘n ondersoek na bewerings van moontlike wangedrag en korrupsie.

‘n Lasbrief is die afgelope Donderdag (29 Mei) by dié plaaslike verkeersdepartement uitgevoer waar ook op dokumente en selfone beslag gelê is.

Dit volg ná onlangse bewerings van moontlike onreëlmatighede wat nou deur nasionale en provinsiale owerhede ondersoek word. Luidens ‘n verklaring van die Swartland-munisipaliteit het sy munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, en die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, onmiddellik druk op owerhede geplaas om nadere ondersoek in te stel toe die bewerings van korrupsie en wangedrag deur amptenare aan die lig gekom het.

‘n Gesamentlike ondersoek is deur die nasionale departement van vervoer, die Wes-Kaapse departement van mobiliteit en die polisie se provinsiale kommersiële misdaadeenheid met die samewerking van die Swartland-munisipaliteit gedoen.

Die munisipaliteit sê in die verklaring hy beskou enige bewerings van wangedrag of korrupsie deur amptenare in ‘n uiters ernstige lig. “Ons sal die sterkste stappe moontlik doen teen enige munisipale amptenaar wat skuldig bevind word aan wangedrag of korrupsie,” het die burgemeester en munisipale bestuurder in die gesamentlike verklaring gesê.

Terwyl die ondersoek voortduur, het die munisipaliteit maatreëls ingestel om dienslewering by die Moorreesburg-verkeersafdeling te verseker.

Enige amptenaar of lid van die publiek wat bykomende inligting het, word versoek om dit by die kantoor van die munisipale bestuurder of die interne ouditeure by 022 487 9400 aan te meld. Inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article