Een van die hekke van die Elandsbaai-kampterrein wat gesluit was.


Die drie vroue wat vir twee dae in ’n kampeerterrein by Elandsbaai met kettings en slotte toegesluit was, daagliks sonder water en elektrisiteit, kan darem weer kom en gaan soos wat hulle wil.

Elandsbaai

Een van die hekke van die Elandsbaai-kampterrein wat gesluit was.

Hetta van Greunen (62), Ella Ahlers (58) en Ronel Wilde (56), lankstaankampeerders van dié klein kampeerterrein, vertel dat amptenare van die Cederberg-munisipaliteit Donderdag, nadat die berig oor hulle “gevangenisskap” op die voorblad verskyn het (Vroue ‘gevange’ gehou, Weslander 19 Oktober 2023), die dik kettings en slotte om die hekke, badkamers en toiletgeriewe kom afhaal het.

Munisipale amptenare het hulle op Dinsdag 17 Oktober kom toesluit, ‘n uur nadat hulle aangesê is om die terrein te ontruim. Die water en krag is darem Dinsdagaand en Woensdagaand weer tot die oggend aangesit omdat een van die vroue van ‘n asemhalingstoestel afhanklik is.

Die vroue het semi-permanente strukture, hoofsaaklik van tentmateriaal en hout opgerig, onder die indruk dat hulle vyfjaarkontrakte gaan kry. Dit kan nie net opgeslaan word nie.

Die vroue het nou regshulp ingeroep om hul dispuut met die munisipaliteit uit te klaar, wat met hul regsverteenwoordiger bevestig is.

Ten spyte van talle bewyse van elektroniese betalings wat Weslander het, is daar aan hulle gesê dat die geld wat die groep van ses lankstaankampeerders die afgelope jaar betaal het, “weg” is. Dit beloop sowat R700 000.

Weslander het die munisipaliteit tot Vrydag 27 Oktober kans gegun om op hul stel vrae oor die aangeleentheid te antwoord. Daar is onder meer vrae oor die presiese rekening waarin die kampeerders deur ‘n munisipale amptenaar, die kampopsigter, aangesê is om hul maandelikse huurgeld in te betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article