Jy’s al weer doenig met die hamper-antie van twee jaar gelede. Jy’t gesien wat jy oorgekom het, maar wraggies, hoor is min! Hoe op dees aarde kan jy nog ‘n keer vir daai grap val? ‘n Hele skaap doer uit Calvinia se geweste en die afval en pensgoed is glo verniet.
Dan is daar ‘n ekstra boks kos met alles in wat jy vir die groot dae nodig het. Slegs R2 500! Wat jy waar gekry het, Magriet? Jy weet wat daai hamper-antie die laaste keer op sosiale media laat weet het – “Ek maak nie vir my skatte op aarde bymekaar nie. Ek is ‘n koningskind. My hemelse woning wag vir my. Ek skuld niemand niks nie. My prys is klaar betaal.”
So, steek daai antie uit. Van jou vleis-en-kos-hamper gaan daar dadels van kom. So, los daai gedagtes. Loop neem eerder vir jou kos- en vleisseëls by een van ons bekende supermarkte uit. O ja, dis nog nie te laat om daai lay-buy vir die kinders se skoolgoed vir volgende jaar uit te neem nie. Wraggies, ‘n mens wil mos darem nie jaar ná jaar dieselfde strikyster aftrap nie. Die groot dae is amper hier en almal wil mos darem daai festive feeling geniet. Hopelik het jy al hier van Juniemaand af daai paar rand per maand se kos- en vleisseëls gekoop, maar los in vaders- naam tog net daai hamper-antie af. Sy gaan weer soos mis voor die son verdwyn en dan sit jy met die leë koskas en verdriet daarby.
Die groot dae is mos bonustyd – jy weet mos. Moet tog nie dat daai ekstra paar rand in jou beursie jou weer soos ‘n kitsmiljoenêr laat optree nie. Onthou, die feestyd is ook maar ‘n dag en ‘n nag lank en dan moet jy weer somme sit en maak vir hoe jy deur die eerste maand van volgende jaar moet kom.
Ek gee net om en dis hoekom ek nou al vir jou dié paar gedagtes los.
Jy’t gesien wat laasjaar op daai tiendae-kamp in die Strand gebeur het. Jou beursie was van breaking up af oop ketel. Jy’t mos sommer vir almal se staanplek betaal en die drink- en eetgoed het jy self betaal. En as die kassier by die drank- of koswinkel vra of jy kontant gaan betaal en of jy gaan tap, dan was jy mos voorbarig om vir almal te wys hoe jy kan tap. En toe jou beursie hier teen Boxing Day begin moeg trek, toe het jou gaste ewe skielik ander draaie om ook nog te maak.
En as jy pakket gevat het by die werk, of jou werksvoordele vir baie jare se diens by jou werkgewer betaal hier oor die groot dae uit, wil ek jou tog vriendelik waarsku om weg te bly van daai slim man wat jou pakketgeld kan verdubbel. Genugtig weet, jy kan mos nie in hierdie uur en eeu nog so dom wees om vir daai grap te val nie. As daai oulap van jou uitbetaal, dan stel ek voor jy hardloop na die naaste bank en loop maak daai swaarverdiende geldjie van jou vas. Hou ‘n lekker bedraggie vir jouself, want jy wil mos darem lekker feestyd hou. En jy mag mos, want beurt is beurt. En as jy nog enkel en beskikbaar is, dan moet jy tog net kophou, want daai oulike meisie of outjie gaan vir jou kaal stroop en voor jy kan sê Nuwejaar, dan is hy of sy klaar met jou. Lekker tye is ‘n vinger lank. Wees oopkop. Dink vooruit. Ek meen maar, jy’t mos nie dom gekom nie!
Loop ligvoet. Moenie weer vir die malligheid van die festive season val nie. Onthou jy laasjaar? Dis asof daai Mariah Carey Krismis-songs jou gekielie het om onnodige goeters te koop. En elke keer val jy vir daai grap, want die kinders kerm vir speelgoed en Ipads. Julle weet die stoof by die huis die huis werk perfek, maar nee, julle kort nou ewe skielik ‘n airfryer. En as jou dop hier teen Oukersaand begin trek en julle ‘n paar nommertjies van antie Judy Boucher hardop saamgesing het, dan is jou liefde vir jou neef wat kom kuier het, mos so baie dat jy sommer ja sê vir daai paar duisend rand wat hy by jou wil leen tot sy skip ingekom het. My mens, jy gaan bitter lank wag vir daai skip om by jou hawe anker te gooi! En jy weet wat laasjaar ná Krismis gebeur het. Jy moes toe mos knap ná Nuwejaar druipstert in daai lyn by die pandjieswinkel gaan staan, met jou airfryer en die kind se Ipad.
Kan jy nog onthou wie jy almal in daai lyn sien staan het? Jip, al daai spanne wat so bo-uit basuin het – dis niks nie, dis festive! Maar nou ja, dis die lewe.
In elk geval, hoe jy ook al die komende feestyd binnegaan, ek hoop dat jy darem in een stuk aan die anderkant gaan uitkom.
En dié van julle wat so graag vir familie oor die groot dae gaan kuier, vat tog jou eie kos en vleis saam. Jy het darem hopelik genoeg seëls vir die groot dae gespaar!


