Die Saldanha Tigers het verlede Saterdag (22 Maart) in Boland Rugby se Streekuitdaag-ligakompetisie in ‘n eenrigtingverkeer-wedstryd seker gemaak dat sy besoekers sonder ‘n bonuspunt huis toe gaan. Die Saldanha Tigers het op Diazpark vir Broodkraal RVK met 73 punte (11 drieë) teenoor 9 punte geklop. Die rustydtelling was 40 – 9 vir die tuisspan.
Die Saldanha Tigers het van die afskop af seker gemaak die besoekers weet hulle sou meer as hul bes moet doen indien hulle die wedstryd wou wen.
Die Tiere het eerste bloed geruik toe sy kaptein, Rivaldo “Bakkies” Barends, ná skitterspel deur die voorspelers agter die doellyn gaan kuier het. Sy losskakel, Marco “Magic” Abrahams, was in die kol met die doelskop. Die wedstryd was hard en die Tiere het behoorlik in die skrums gegrom. Die besoekers moes omtrent hul keer ken, want die tuisspan het met elke bal gehardloop om ‘n bonuspunt te verseker. In die 17de minuut het die haastige reserwe-skrumskakel, Zaven “Rasta” Losper, oorgeduik vir sy drie en Abrahams was weer in die kol met die doelskop. In die lynstane was Barends en Ronnie “Sening” Brown (flank) ysters.
Die manne van Broodkraal het moedig probeer, maar foute het verhinder dat hulle meer punte aanteken.
Vir die Tiere het Caleb “Flyer” van Wyk (vleuel) met ‘n sierlike duikslag gedruk, en Abrahams het weer geslaag met die doelskop. In die 25ste minuut het die Tiere binne trefafstand oortree en Cornè Boois (heelagter) het die eerste punte vir Broodkraal met ‘n strafskop aangeteken (telling 21-3.)
Die Tiere se voor- en agterspelers het saamgespeel, die bal lug gegee en die telbord het bly rol. Met rustyd het Broodkraal se kaptein en agtsteman, Kane Markus, hard met sy troepe gepraat om ongeag die telling teen hulle nie tou op te gooi nie. Die Tiere het egter aanhou kom en die besoekers moes verdedig vir al wat hulle werd was.
Vir die besoekers het Kane Markus (agtsteman en kaptein), Bradwin Alexander (senter), Eugene Markus (losskakel), Luciano Kilowan (senter), Shanrick Pienaar (skrumskakel) en Cornè Boois (heelagter) uitgeblink en moedig probeer.
Vir die tuisspan het sy kaptein, Rivaldo Barends (slot), Caleb van Wyk (vleuel), André August (agtsteman), Ronnie Brown (flank), Ju-Wayne Prins (flank), Zaven Losper (skrumskakel) en Marco Abrahams (losskakel) uitgeblink.
• Saldanha Tigers se B-span het Broodkraal RVK se B-span met ‘n meer beskeie 12-10 geklop.





