Ná ‘n suksesvolle eerste jaar in 2023-’24, het Darling-krieketklub ‘n prysenswaardige vierde plek in die liga behaal. Darling het daarna voortgebou op sy prestasie van 2024, en in sy tweede jaar die 2024-’25 Boland-promosieliga- Wes-titel beklink.
Weslander het met Ernest Dietrich, Darling-krieketklub se afrigter, en Jevon Cloete, kaptein, gesels om uit te vind wat vir hulle die suksesstories vir die 2024-’25-seisoen was.
Ná ‘n sterk eerste jaar in die Boland-pomosieliga-Wes is verwagtinge verhoog met ‘n nuwe afrigtingspan en bykomende nuwe spelers.
Dietrich het opgemerk dat die handhawing van die hoë standaarde deur die seisoen uitdagend was.
“Ja, daar was teleurstellings nadat ons ‘n paar wedstryde verloor het, maar ons het waardevolle lesse daaruit geleer wat ons gemotiveer en ons as ‘n span verder versterk het. Een merkwaardige eienskap wat na vore gekom het, was die uitstekende samewerking tussen die uitvoerende en die spanbestuur. Dit het afrigters en spelers in staat gestel om ten volle op die spel te konsentreer,” sê Dietrich.
“Beide op en van die veld het ons deurgaans elke week ‘n sterk span saamgestel. Hierdie seisoen was ongelooflik uitdagend, aangesien ons eers die ligatitel in ons laaste tuiswedstryd verseker het. Dit beklemtoon werklik die mededingendheid van die ander spanne.
“Wat my regtig beïndruk het, was ons spanwerk. Ná elke wedstryd het ‘n ander speler na vore gekom, wat bewys het dat ons nie op net een of twee sterspelers staatmaak nie, maar eerder ‘n verenigde span is wat alles vir die klub gee.”
“Dit was ‘n groot eer om die span te lei en met spelers van uiteenlopende persoonlikhede saam te werk. Saam het ons aansienlike groei ervaar en die jong spelers het werklik uitgestaan. In ons wedstryd teen Wolseley, met ons knie-diep in die moeilikheid, het dit nie goed met ons gegaan nie. Ons afrigtingspan en bestuur se inspirasie het ons gehelp om te wen,” sê Cloete op sy beurt.
Cloete het ook sy dank uitgespreek teenoor al die toegewyde ondersteuners en klubbestuur. ‘n Spesiale dank gaan aan die vroue wat gedurig koue water, energiedrankies en etes voorsien het.
“Jul pogings is werklik merkwaardig. Julle het ons gemotiveer en ons gelei tot ons uiteindelike prestasie – die ligatitel,” sê Cloete bly.
Weslander het ook vir Shelton Adams, die klubvoorsitter, gepols oor die span se goeie vertoning. Shelton het al die spelers vir hul uitsonderlike ambassadeurskap geprys, beide op en van die veld af.
“Die bestuur se verantwoordelikheid was duidelik: om te lei en die spelers te ondersteun. Met dit het hulle die ligatitel vir die eerste keer gewen. Ons sou nie hierdie prestasie behaal het sonder ons lojale borge en ondersteuners nie, en daarvoor bedank ons u vir u bydrae.
“Ons fasiliteite was in ‘n uitstekende toestand en daarom kon ons topkrieket speel, danksy die Swartland-munisipaliteit,” sê Adams.




