Die wyle Marley Filander.
Die wyle Marley Filander.

“Net vir die tipe mens wie hy was, het hy nie verdien om só te sterf nie,” meen Kaytlin Filander (20).

Die toneel waar Marley Filander se lyk gevind is.

Haar broer, Marley Filander (25), se lewelose liggaam is op Saterdag 23 Augustus omstreeks 07:30 op ‘n oop stuk veld naby die Hoërskool Weston in in Pikkewynstraat, Louwville, gevind.

Soos Kaytlin verduidelik het Marley by vriende gekuier en was halfpad huis toe saam met ‘n vriend toe hulle aangeval is. Die familie weet nie wat die motief kan wees nie en wil nie aannames daaroor maak nie.

Volgens sersant Wesley Twigg, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, was die polisie op die toneel van die misdaad waar hulle die slagoffer met veelvuldige meswonde aan sy liggaam gevind het. “Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.”

Kaptein Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, het bevestig dat die Vredenburg-polisie die Anthony Rhodes (24) en die Jean-Claude Goliath (21) op Vrydag 5 September in hegtenis geneem het. Hulle het Maandag 8 September hul eerste hofverskyning op aanklag van moord gemaak.

Claudia de Koker, ‘n inwoner van Vredenburg, meen daar is ‘n groot seer en woede in die gemeenskappe. “Die Here moet ons regtig help sodat ons oor dit kan kom sodat hierdie tipe insidente nie weer gebeur nie.”

Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid, sê hierdie insident het weer eens die gemeenskap stukkend en verpletterd gelaat. “Nóg ‘n skerp jongman is van sy familie weggeruk. Ek voel dat die departement van gemeenskapsveiligheid in ons munisipaliteit regtig na die tafel toe moet kom, alles kan nie net aan die polisie oorgelaat word nie.”

Volgens Kaytlin bied dit ‘n klein verligting dat die verdagtes in hegtenis geneem is. “Ek persoonlik voel lucky, want daar is baie gevalle soos hierdie wat baie keer net stil raak. Ek voel ons is darem ‘n klein bietjie nader aan closure.

‘n Jong Kaytlin Filander (links) saam met haar broer Marley Filander (regs).

Kaytlin het op Dinsdag 9 September ‘n petisie aanlyn begin op Change.org om die beskuldigdes se borgtog-aansoek teen te staan. Sy moedig mense aan om dit te gaan teken, want haar broer was ‘n jongman met groot drome voordat hy tragies van hulle af weggeruk was.

Thodes en Goliath verskyn weer op Dinsdag 16 September vir hulle borgtogaansoek in die Vredenburg-landdroshof.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article