Ongeveer 70% van die Saldanhabaai-munisipaliteit se voorgestelde begroting vir die drie-jaar-mediumtermyn-inkomste en -uitgawes-tydperk (MTREF) sal in infrastruktuur belê word.
Só het André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai, Donderdag 28 Maart in sy openingstoespraak gesê voordat hy die konsepbegroting ter tafel gelê het.
“Ons grootste strategiese fokusgebied bly die belegging in infrastruktuur met die primêre doelwit om betroubare en bekostigbare basiese dienste en grootmaatdienste aan al ons inwoners te verskaf. Altesaam 66% van ons begroting, of R4,65 miljard uit R7,05 miljard, word toegeken aan hierdie doelwit oor die drie-jaar-mediumtermyn-inkomste en -uitgawes-tydperk.”
Infrastruktuurprojekte soos paaie, stormwater, watertoevoer, krag en sanitasie maak ook gemiddeld 81% van die kapitaalbegroting vir die 2024-25 MTREF-tydperk op.
Die algehele uitgawebegroting – kapitaal en operasioneel – vir 2024-’25 is R2,15 miljard, waarvan die kapitaalbegroting R327 152 540 en die operasionele begroting vir onder meer salarisse, vergoeding van raadslede, skulddaling, oninvorderbare skuld, grootmaat kragaankope en kontrakdienste R1 825 544 325 opmaak.
Oor die drie-jaar-MTREF-tydperk beslaan die algehele uitgawebegroting R7,05 miljard.
Die munisipaliteit begroot egter vir ’n bedryfstekort van R34 miljoen vir die 2024-’25-MTREF-tydperk met ’n bedryfsurplus van onderskeidelik R49 miljoen en R59 miljoen, wat weer vir die daaropvolgende twee jare begroot word.
Die munisipaliteit beoog om ’n inkomste van R1,79 miljard in 2024-’25 te in, waarvan R1,54 miljard uit sy eie inkomstestroom sal kom en sowat R249 miljoen uit toelaes van die nasionale en provinsiale regering, wat 15% van die algehele inkomste verteenwoordig.
Die Wes-Kaapse regering sal oor die volgende drie jaar R717 miljoen in projekte in die Saldanhabaai- munisipale gebied belê, waarvan die grootste – R409 miljoen – van die departement van menslike nedersettings is, en R217 miljoen van die departement van vervoer vir padwerke in Langebaanweg, Hopefield en St. Helenabaai en Stompneusbaai fase 2.
Die departement van onderwys sal ook R56 miljoen bewillig vir aanbouings by Panorama Primêr en die departement van gesondheid R34 miljoen, waarvan R27 miljoen vir die Diazville-kliniek uitgesit is.
Wat tariefverhogings betref, kan gemiddelde huishoudings sowat 7,9% meer vir hul maandelikse rekening begroot. Dit beteken waar die gemiddelde huishouding ’n maandelikse munisipale rekening van R3 402 gekry het, sal hy nou sowat R238 meer moet opdok.
Dit sluit ’n 10,7%-verhoging vir elektrisiteit in (gemiddeld R1 568; na R1 724,80) wat onderhewig is aan Nersa-goedkeuring; ’n 6%- verhoging in eiendomsbelasting (gemiddeld R525; na R556,50) en riooldienste (gemiddeld R519; na R550,14), en ’n 5%-verhoging vir water (gemiddeld R493; na R517,65) en vullisverwydering (gemiddeld R296; na R310,80).
Truter het verduidelik dat beide die nasionale en provinsiale begrotings ’n invloed op die SBM se begroting het.
Die munisipaliteit het reeds verskeie openbare sessies oor die voorgestelde begroting met inwoners in verskillende Weskus-dorpe gehou.
Die publiek het tot 26 April om insette te lewer, waarna die begroting op 23 Mei vir finale goedkeuring voor die raad sal dien.
Die tariefverhogings wat goedgekeur word, tree op 1 Julie in werking. Besoek www.sbm.gov.za.


